Toe steel wollerige Love my hart
RUBRIEK - Net sewe maande oud en klaar 'n berader van formaat. Ontmoet Love, die Bernedoodle.
RUBRIEK. – Ry ek op ‘n Dinsdagmiddag oor die Vaalrivier die Vrystaat binne. Net tot anderkant Vaalpark, maar Vrystaat is Vrystaat.
Ek stop onder die afdak, maak die motordeur oop en vanuit uit nêrens is daar skielik ‘n wollerige gedoente wat met alle mag in myse Ford Mich wil klim.
Dis net hare en stert en baie energie. Teen die tyd wat ek en my kamera veilig op pad voordeur toe is, besef ek dis ‘n hond. ‘n Grote – in wording.
Sy is sewe maande oud en is ‘n Bernedoodle. Dis ‘n kruising tussen ‘n Bernese Berghond en ‘n Franse Poedel.
Amptelik is haar naam Love en op Instagram is sy bekend as Love.thebernedoodle, maar sy reageer, soort van, op Lovie en Baba ook.
Die energieke bondel liefde het al meer as 12 600 volgelinge op Instagram. Sy wen binne minute my hart ook.
Probeer haar bes om op my skoot te sit. Onmoontlik, want op sewe maande weeg sy al by die 30kg. Ek en sy sit die bank vol.
Pa Leroi gee vir haar ‘n speelding in die hoop dat sy sal rustig raak. Glad nie, Baba Love spring dadelik weer op die bank, gretig om vir my te wys wat het sy gekry.
Die twee Pekinese, Levi en Leah, het kom groet en toe rustig gaan lê, maar aan Love is daar geen einde nie.
Op ‘n stadium gee Leroi haar sy leë plastiese koeldrankbottel. Daarmee was sy in haar skik vir minder as twee minute en toe ruil sy dit weer vir haar leer-been.
Oor haar nuwe baba boetie is Love opgewonde. Klein Lincoln is net vyf dae oud en slaap rustig. Love pla nie by sy bababed nie.
Tot ek wil foto’s neem. Sy is dadelik op die bank langs ma Lorandi en pa Leroi. Snuif versigtig in baba Lincoln se rigting en kry dan haar sit sodat ek die foto kan neem.
Ek groet haar plegtig met ‘n drukkie en glip vinnig by die deur uit voordat sy idees kry van saamgaan.
Dink nie Kleinsus Antjie se hart sal dit hou as ek met ‘n babahond ses keer haar grootte by die huis opdaag nie, maar my dag is gemaak. Dié Bernedoodle kan ‘n terapiehond word as sy eendag groot is.
