Goud en silwer vir jong wetenskaplikes
Vier leerders van Noordskool in Sasolburg het uitstekend by die Eskom Ekspo gevaar.
SASOLBURG – Vier graad sewe leerders van Noordskool het 26 en 27 Julie aan die Eskom Ekspo se streeksfinale vir graad 4 – 12 leerders by die Universiteit van die Vrystaat se Qwa Qwa kampus deelgeneem.
Ntokozo Mbatha en Ofentse Matras se groepprojek het hul goue medaljes en die trofee vir algehele kategorie-wenners in chemie graad 4 – 12 besorg.
Die duo het die doeltreffendheid van haarsproei as ‘n alternatief vir fikseersproei op houtskool tekeninge ondersoek, en ontdek dat haarsproei nie net die tekeninge beter seël nie, maar ook meer koste-effektief is.
Trey Schalkwyk en Keanu Pillay se wetenskap projekte het silwer verower.
“Die ekspo het ‘n platform gebied vir leerders van verskillende ouderdomme om diverse wetenskaplike vrae aan te pak, met kundiges te gesels en waardevolle terugvoer te ontvang.
“Hierdie ekspo en die leerders se prestasie het weereens beklemtoon hoe belangrik dit is om jong leerders se denke op die gebied van wetenskap te bevorder” het juffrou Sune Blignaut van Noordskool gesê.
