Na trauma kry Snippie ‘n liefdevolle nuwe tuiste
Toe die gesin Snippie Saterdag by Vaalpets ontmoet, was daar dadelik 'n wedersydse band. Snippie is nou amptelik 'n gesinslid van die Venters en slaap snags by Jan en Madelein in hul kamer.
VANDERBIJLPARK. – ‘n Nuwe hoofstuk in die verhaal van Snippie, wat in Februarie deur Vaalpets Diereskuiling ingeneem is, kan uiteindelik geskryf word. Vaalweekblad het onlangs berig oor die hondjie wat erg getraumatiseer is nadat hy gesien het hoe sy eienaar in ‘n tragiese voorval sterf.
Die eerste paar weke by Vaalpets wou Snippie niks anders doen as om net weg te kruip, te bewe en te huil nie. Hy was baie geheg aan sy mensmamma en het haar duidelik baie gemis. Hoewel daar die afgelope maande agt aannemingspogings was, het almal ongelukkig skipbreuk gely.
Snippie is intussen in pleegsorg geplaas maar sy pleegouer moes verhuis en kon hom nie saamneem nie. ‘n Geskikte nuwe eienaar moes dringend gevind word. Toe diereliefhebbers Jan en Madelein Venter en hul seun Juan Marco in Vaalweekblad van Snippie lees, het hulle dadelik geweet hy sou net die regte hondjie vir hulle wees. Hul worshondjie is verlede jaar dood en die gemis was groot. Dit was tyd om hul harte vir ‘n nuwe hondjie oop te maak.
“Ons gesin het saam besluit dat ons graag ‘n liefdevolle nuwe huis vir Snippie wou gee, veral na al die trauma waardeur hy is,” sê Jan.
Toe hulle Snippie verlede Saterdag by Vaalpets ontmoet, was daar dadelik ‘n wedersydse band. Snippie is nou amptelik ‘n gesinslid van die Venters en slaap snags by Jan en Madelein in hul kamer.
“Hy is nog bietjie skrikkerig maar ons het die wedstryd al 50% gewen,” sê Jan. Snippie eet goed, en buiten vir sy blikkieskos word hy soms ook bederf met heerlike hoenderlewertjies en sous. Hoewel die Venters ook twee katte het, is Snippie nou sonder twyfel die “dierekoning van die Venterkasteel”.
* Vaalpets is op die hoek van Fred Droste-rylaan en Huntslaan, Vaalview, Vanderbijlpark. Diereliefhebbers wat graag ‘n bydrae wil maak vir die versorging van diere soos Snippie, kan ‘n inbetaling maak aan Vaalpets, Standard Bank, Bankkode: 016641, Rekeningnommer: 026554933. Swift Code : SBZAZAJJ.




