‘Ons harte is leeg. Vlieg hoog onse Tiekie’
Yorkie se mensouers bedank die betrokkenes vir hul gewaardeerde bystand in dié hartseer tyd
Die meeste Vaalweekbladlesers is diereliefhebbers wat maar te goed weet hoe lief ‘n mens vir jou troeteldiere kan word. As hulle doodgaan, is dit soos die verlies van ‘n familielid. Een van ons lesers, Duelinda Botes, het die hartroerende boodskap hier onder gestuur na die onlangse dood van hul hondjie, Tiekie. Vaalweekblad en sekerlik baie van ons lesers se opregte simpatie aan die Botes-egpaar.
Duelinda skryf:
Ons liefste Tiekiekind (20 Maart 2017 tot 1 Augustus 2024), ons is stukkend, jou lyfie kon nie meer nie. Binne ‘n week en ‘n half is jy weggeruk.
Ons weet nie hoe om die toekoms te trotseer sonder jou klein liefielyfie nie. Jy het baie diep spore in ons harte getrap. Jy was jou menspappa se alles, myne ook, maar jy was bitter erg oor jou menspappa. Net die liewe Heer weet hoekom ons dit moes oorkom. Ons gaan jou klein lyfie verskriklik mis. Jy was altyd in ons arms. Ons harte is leeg. Vlieg hoog onse Tiekie, tot ons mekaar weer sien. Rus sag. Lief jou vir altyd.
• Hiermee wil ek en Herman graag die Vereeniging Dierehospitaal in Duncanville bedank vir die behandeling van ons Yorkie, Tiekie. Dankie aan die twee dokters wat hul bes gedoen het om hom te red. Dankie aan die ontvangdames vir hul bystand met Tiekie se dood. Dit het so baie vir ons beteken. Ons harte is stukkend maar die wete dat julle jul bes gedoen het, gaan nie ongesiens verby nie.


