Kanker geklop: Nou waardeer Belinda die lewe nog meer!
Oktober is Borskanker-bewustheidsmaand. Hou in gedagte dat vroeë opsporing lewens kan red!
Borskanker is ‘n siekte wat nie net ouer vroue tref nie. Belinda Smith van Sasolburg was maar ‘n jeugdige 29 toe sy sewe jaar terug haar skokdiagnose gekry het. Haar geveg en pad na genesing was ‘n opdraande stryd, maar vandag kyk sy met dankbaarheid terug.
“Ek het in 2017 pas ma van ‘n pragtige dogtertjie geword en is dokter toe vir ‘n nageboorte-ondersoek. Ek het vreeslik gesukkel om te borsvoed en het opgehou, maar daar het steeds vog uit my bors gekom. My dokter het gemeen dit is normaal, maar ek het bekommerd bly voel en is terug vir ‘n opvolgondersoek. Ek is vir ‘n mammogram verwys, wat ‘n knop van byna 8 cm uitgewys het. ‘n Biopsie is dadelik gedoen en weggestuur,” onthou Belinda.
‘n Week later, op 19 Oktober 2017, het sy die skokuitslag gekry: “Dit was fase 3 borskanker wat toe reeds na sekere van my limfkliere versprei het. Dit het gevoel of my hele lewe in duie stort. Daar het soveel emosies en vrees deur my kop gemaal. Verdere toetse het getoon dat dit ‘n uiters aggressiewe kanker was. Die onkoloog het twee opsies vir my gegee: Met Opsie 1 sou hulle my eers behandel en sien hoe alles reageer, maar daar was geen waarborge nie. Opsie 2 was om so vinnig moontlik te opereer en ‘n mastektomie te doen. Met die wete dat my kind vir my wag, het ek sonder huiwering Opsie 2 gekies. Ek is na dr. Snyman by Mediclinic Emfuleni verwys, wat eerlik vir my gesê het die prognose lyk nie goed nie maar hy gaan sy beste gee.”
Op 7 November 2017 is Belinda se mastektomie uitgevoer. Die “goeie nuus” in die omstandighede was dat die knop se afmetings toe slegs 5cm was, en van die vyf kliere wat hulle vermoed het aangetas is, was slegs drie mikroskopies aangetas. Dit het haar prognose al klaar baie beter gemaak.
“Ek het daarna met my chemo-behandeling van ses maande begin, wat my ongelooflik sleg laat voel het. Daarna het 40 sessies bestraling gevolg. Ek het deur al my behandelings my kop positief gehou, steeds gaan werk en aangepas by my ‘nuwe normaal’,” sê sy.
Dit is nou sewe jaar later en Belinda gaan steeds getrou vir haar jaarlikse opvolgtoetse om seker te maak al haar tellings is binne perke. Hoewel sy nagevolge van die chemo en bestraling oorgehou het, het sy geleer om daarmee saam te leef. Die siekte het haar met littekens gelaat, maar sy is ‘n sprekende voorbeeld van blymoedigheid en dankbaarheid.
“Kanker verander ‘n mens se hele lewensuitkyk maar dis nie ‘n doodsvonnis nie. Ek is vandag bevoorreg om my dogtertjie te sien grootword. Ek leef nou elke dag voluit en het waardering vir selfs die kleinste dingetjies; veral ook vir die mense in my lewe. Na so ‘n diagnose besef mens vinnig hoe kort die lewe kan wees as jy met jou rug teen die muur staan. Elke dag is nou vir my ‘n ‘WOW-dag’ want ek is nog ‘n dag gespaar,” sê sy.
Belinda se raad aan vroue, jonk en oud, is om betyds vir ‘n mammogram te gaan. “Maak dadelik werk daarvan as iets nie reg voel nie. ‘n Jong ouderdom is geen waarborg dat kanker nie oor jou pad gaan kom nie. Moenie wag tot dit te laat is nie.”

