Loop lig vir dié lisensiehernuwing-swendelaars!
Verskeie inwoners van die Vaaldriehoek en elders in die land het reeds in dié skelms se valstrik beland.

VANDERBIJLPARK. – Meeste motoriste sien daarteen op om hul voertuiglisensies jaarliks by ‘n verkeersafdeling te gaan hernu. Danksy wettige ondernemings wat dié taak namens die publiek doen, kan baie tyd en frustrasies gespaar word. Wees egter versigtig as jy van onbekende “Facebook-helpers” se dienste gebruik maak. Dit kan dalk ‘n swendelaar wees wat jou duisende rand uit die sak gaan jaag!
Vaalweekblad het die afgelope twee maande van verskeie Vaaldriehoekse inwoners verneem wat op dié manier deur skelms ingeloop is. Een van die vermeende bedrieërs, wat onder andere vals profielname soos Marie Erasmus, Tanya Jansen en Tanya Visagie gebruik, adverteer dat sy kan help om hernuwing van voertuiglisensies maklik en vinnig te doen. Sy belowe ook dat die papierwerk by kliënte se huise afgelewer sal word sodra alles afgehandel is. Sy gee verder voor dat sy motoriste kan help met “probleemgevalle”, soos om ‘n voertuig wat nie padwaardig is nie of geskrap is, op hul naam te kry.
Die swendelaar vereis ‘n voorafbetaling, maar sodra niksvermoedende mense die bedrag na haar kitsrekening oorgedra het, sluit sy haar rekening en antwoord geen verdere Facebook- of selfoonnavrae nie. Volgens een van haar vals Facebook-profiele woon sy in Pretoria en werk by ‘n verkeersafdeling.
‘n Vaaldriehoekse sakeman, André (sy van word weerhou), sê hy kan homself skop dat hy hom deur die swendelaar laat flous het. “Ek was te gemaklik en het gehoop die vrou kan my lisensieskyfie, wat 16 September verval het, namens my hernu.
“Ek moes ‘n aanvanklike bedrag na haar selnommer-rekening oorbetaal, maar sy het allerhande redes gekry waarom ek meer moes betaal, byvoorbeeld vir ‘boetes’: Eers ‘n ekstra R600, toe nog R4 600 en verskeie kleiner bedrae. Sy het gesê sy het konneksies by die verkeersafdeling en sou die boetes van die ‘sisteem’ afhaal sodra ek alles betaal het. Sy het uiteindelik R10 000 uit my uit en ek het steeds nie my hernuwingsdokumente nie,” sê André.
Die swendelaar het intussen haar Facebook-profiele geblok. André se bank kan nie sy verlore geld aan hom terugbetaal nie en het hom aangeraai om ‘n amptelike klag by die polisie te gaan lê. Dit sal waarskynlik betekenisloos wees omdat die swendelaar se ware identiteit onbekend is.
“Die beste raad is dat mense nie van onbekendes se hulp op Facebook gebruik moet maak nie. Gaan staan self in die ry, of kies ‘n diensverskaffer met ‘n bewese rekord en vaste adres sodat julle nie dieselfde fout as ek maak nie,” sê hy.
