Musiek bly sy hartklop, veral Country musiek
Hy is 'n Country sanger, met 'n voorliefde vir ballades en Elvis Presley se musiek. Maak nader kennis met die Vaaldriehoek se eie Colin.
VANDERBIJLPARK – “Ek het groot geword met musiek. Sondae het familiekuiers in saamsing ontaard,” vertel Colin Janse van Vuuren heel sedig en begin dan lag.
Sy oom was Bles Bridges. Sy ma se broer en Colin het beslis sy oom se sangtalente geërf. “Hy was my held. Alhoewel, toe ek baie klein was, was ek bietjie bang vir hom. Hy was so loud,” lag hy weer.

Die keer bereik die lagduiweltjies nie heeltemal sy oë nie. Om baie soos die beroemde Bles Bridges te klink is ‘n gawe en ‘n kruis. “Ek was nog altyd bang mense dink ek wil ‘n tweede Bles wees. Ek wil nie, ek is net Colin.”
Na meer as twee dekades in die musiekbedryf, het hy hierde jaar ‘n album uitgebring Colin Dee – 21 Year Gold.
“Ek werk aan volume 2,” beduie hy. Colin is nie voltyds ‘n musikant nie. Musiek is sy hartklop, maar hy is die algemene bestuurder by die Tuscany Inn in Vereeniging.
“Ek beplan om eersdaags ‘n vertoning van my eie hier te hou, maar vir eers kry ek gereeld van die ander Country sangers om op te tree. Dan gooi ek maar so ‘n liedjie of twee van die kant af in en doen die klank,” beduie hy.
In November tree Barbara Ray & Nadine Burness (9 November), Clive Bruce (17 November), Manie Jackson (23 November) en Billy Forest (24 November) by die restaurant op.
“Dis tyd dat ons weer vuur maak onder Country in Suid-Afrika. Onthou jy hoe groot was Country musiek in die 80’s?”

Colin het in die Vaaldriehoek groot geword, maar die lewe het hom vir jare na ander plekke geneem met vele kronkels en storms langs die pad.
“Ek is terug in die Vaaldriehoek. Ek is by die huis. Die lewe het my ‘n tweede kans gegee. Ek gaan aanhou sing,” en die keer bereik die glimlag wel sy oë.
Hy is ‘n groot Elvis Presley aanhanger en het al op sy dag die voorreg gehad om Elvis se Graceland in Memphis, Tennessee te besoek en by van die kroeë in Memphis te kon optree. “Elvis se storie is vir my ‘n inspirasie. Musiek was vir Elvis alles en vir my is musiek my lewe.”
