Local newsNewsSport

Kookwater krieket in verswelgende hitte

Verlede naweek se SPL wedstryde het weer vir goeie krieket gesorg.

VANDERBIJLPARK – Die voorlaaste week van die Sedibeng Premier Liga vir o11’s en o13’s het laas naweek weer vir aksie tot die mag drie gesorg.

Die jong krieketspelers het die hittegolf dapper aangedurf en hul harte uitgespeel. Saterdagoggend het die kolwe al vroegoggend by die Hoërskool Transvalia geklap toe die Fireball Kingz en die Casa Ravens mekaar die stryd aangesê het.

Jason Bouwer van die BRSI Beamers voer ‘n oorlogsdansie uit na ‘n goeie aflewering na die Jaguar kolwer.

Die Fireball Kingz het 181/2 in 20 boulbeurte aangeteken, waarna hul boulers al die Ravens se kolwers binne 10.3 boulbeurte verslaan het. Vir die Kingz het Duvan van den Bergh ‘n skitterende 54* van 25 balle geslaan, terwyl Altus Bester net 23 balle nodig gehad het vir sy 52 lopies.

Christiaan Kemp van die Kingz het amok gemaak met sy boulwerk en het vyf paaltjies geneem en net 10 lopies afgestaan. Met dié oorwinning het die Fireball Kingz hul plek in die finaal bespreek.

Faffa Derksen maak gereed om ‘n bal af te vuur.

Die Kingz se opponente in die finaal is Sondagoggend bepaal toe die BRSI Beamers en die Jaguars 11s mekaar die stryd aangesê het.

Die Jaguars het eerste gekolf en 143/7 in 20 boulbeurte aangeteken. Hanro Smit het die beste met die kolf gevaar met 37 lopies van 28 balle. In die tweede kolfbeurt het die Beamers aanvanklik gesukkel en het op ‘n stadium 26/5 gehad.

Hulle het egter moedig aanhou probeer om uiteindelik 124/8 in hul 20 boulbeurte te kry.

In die o13 afdeling het die Roosters hul plek in die finaal verseker deur die Jaguars met 104 lopies te verslaan.

Die Roosters se beste kolwers was Caleph Laubcher (54* van 29 balle) en Ronaldo Braun (52* van 34 balle). Hulle het 201/3 aangeteken.

Dit was amper. Die bal mis die paaltjies net-net in die wedstryd tussen die Jaguars 11s en die BRSI Beamers. Foto’s: Gerda Bruinette

Die Jaguars het 97/6 in 20 boulbeurte op die telbord gehad. In die ander o13 wedstryd het die Bidvest Warriors en die Strikers mekaar aangevat.

Die Warriors het in die eerste kolfbeurt 128/6 aangeteken. Die Strikers het die totaal in 18.5 boulbeurte verbygesteek om die Warriors met ses paaltjies te klop.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button