Country-musiekstigting vereer Muso met gesogte Legendebewys
Die sanger kon weens sy kankerbehandeling nie self die geleentheid bywoon nie, maar het agterna groot dank teenoor die organisasie uitgespreek
Die geliefde Vaaldriehoekse sanger, Vernon Muso, is by die SA Country Music Association/Foundation (SACMAF) se jaarlikse toekenningsgeleentheid met ‘n spesiale eerbewys beloon vir sy jarelange bydrae tot die bevordering van musiek in Suid-Afrika.
Vernon, wat die afgelope maande teen kolonkanker veg, is die dag voor die toekenningsgeleentheid met erge pyn in die hospitaal opgeneem en kon die spoggeleentheid by Amarosa in Kameeldrift, Pretoria nie self bywoon nie. Sy toekenning, ‘n Legende-eerbewys, is die aand namens hom deur sy Vaaldriehoekse vriende, Landi and Gert Visagie, in ontvangs geneem.
“Wat ‘n eer! Dankie SACMAF! Ek voel regtig bevoorreg en is dankbaar ek kon hierdie nasionale toekenning Vaaldriehoek toe bring. Ek dra dit op aan julle, my ondersteuners, want op my eie kon ek dit nie doen nie,” het hy die volgende oggend per WhatsApp uit sy hospitaalbed laat weet.
Vernon verduur steeds dikwels intense pyn, maar sommige dae is dit draagliker, sê hy. Hy het verlede week laat weet dat sy vordering stadig en pynlik is, maar dat hy elke dag ‘n bietjie sterker voel.
“Die chemo maak mens baie moeg maar ek cope heel goed daarmee. Dankie vir almal se volgehoue gebede,” sê hy.
Country-musiekliefhebbers wat Vernon met ‘n donasie wil bystaan, kan ‘n inbetaling maak aan VR Philander, Standard Bank, Savings ACC number: 27 554 9364, Branch: Bayside, Branch Code: 022209.
* Nog ‘n geliefde Vaaldriehoekse sangeres, Charlie Dicks, is deur SACMAF met ‘n Legende-toekenning (afdeling: Gospel) beloon.
