Mahindra Vaal stap met internasionale eer weg!
Tessa Pienaar en haar Mahindra Vaal-span ryg plaaslike EN internasionale toekennings in!
VANDERBIJLPARK. – Met haar indrukwekkende prestasies deur die afgelope jare het Tessa Pienaar, handelaarshoof van Mahindra Vaal, reeds bewys dat sy as vrou geen tree hoef terug te staan in ‘n oorwegend manlike motorindustrie nie. Onder haar leiding het die agentskap reeds verskeie toptoekennings in Suid-Afrika ontvang, en nou is twee van haar personeellede ook internasionaal vereer!
Louis Pienaar van die Vaaldriehoek is vroeër die maand by die finale Global Skill Fest in Indië as die wêreld se beste tegnikus vir die Mahindra-fabrikaat aangewys. Dis ‘n uiters gesogte toekenning waar hy teen die bestes in die wêreld meegeding het.

Nadine Coetzee, verkoopsbestuurder van Mahindra Vaal, is onder die top-vyf verkoopspersone in die XUV 700-segment geplaas. Sy het vroeër vanjaar by die SA-handelaarskonferensie weggestap met die toekenning as Beste Verkoopsbestuurder in die mediumkategorie in Suid-Afrika. Nadat sy meegeding het teen deelnemers van Australië, Nieu-Seeland, Mosambiek, Nepal en Nieu-Guinee, is sy in die eerste sone van die internasionale kompetisie as die beste verkoopspersoon in die XUV 700-kategorie aangewys. Sy gaan in Januarie aanstaande jaar weer terug Indië toe om teen die res van die wêreld se beste Mahindra-verkoopsbestuurders mee te ding.

Op Suid-Afrikaanse bodem vaar die Mahindra Vaal-span net so uitstekend: Mahindra Suid-Afrika het tydens hul onlangse jaarlikse handelaarskonferensie, waar sowar 80 handelaars teenwoordig was, die Mahindra Vaal-agentskap vereer vir hul volgehoue ondersteuning aan Mahindra Suid Afrika. Die rits toekennings wat Mahindra Vaal ontvang het, sluit onder meer ‘n langdienstoekenning vir hul 15 jaar van lojale diens as motoragentskap in. Mahindra Suid-Afrika vier vanjaar hul 20ste bestaansjaar as verspreider van dié voertuie in Suid Afrika, en Mahindra Vaal is een van vyf handelaars in die land wat die verspreider hier help vestig het.

Nog toekenings wat Mahindra Vaal tydens die Suid-Afrikaanse toekenningsfunksie ontvang het, sluit in:
• Beste verkope in die Mahindra-produk Scorpio N (Mediumkategorie),
• Beste verkope in Mahindra-dubbelkajuitbakkies,
• Beste in algehele markaandeel in die geografiese gebied waar hulle handeldryf,
• Beste in Mediumkategorie: Kommersiële voertuigverkope,
• Beste in Mediumkategorie: Passasiersvoertuigverkope,
• Beste in Mediumkategorie: Enkelkajuit-bakkieverkope.
Buiten haar veeleisende taak as handelaarshoof van Mahindra Vaal, dien Tessa ook as komiteelid in die National Automobile Dealer’s Association (NADA Suid-Afrika); sy is voorsitter van die Vaaldriehoek Handelaarsforum, en is hoofuitvoerende beampte van die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCoC).
“Ek is trots daarop om die motorindustrie in die Vaaldriehoek te verteenwoordig en sien uit om saam met die Mahindra Vaal-span nóg groot hoogtes te bereik. Ek glo vas aan die omgewing waar ek woon en werk. Ek is hier om die Vaaldriehoek verder te verteenwoordig en bekend te stel as ‘n omgewing met groot ekonomiese geleenthede.
“In my rol as voorsitter van die Vaaldriehoek Handelaarsforum is dit my strewe om die industrie te beskerm en onder ons gemeenskap te bemark sodat daar meer plaaslike ondersteuning is, eerder as dat besigheid en werksgeleenthede uit ons omgewing weggevat word,” sê Tessa.
“Mahindra Vaal bedank graag al ons kliënte vir hul jarelange getroue diens en ondersteuning, en nooi almal om ons agentskap te besoek. Terselfdertyd doen ek ‘n beroep op die gemeenskap om die plaaslike motoragentskappe te ondersteun. Dié industrie is huidig die grootste werksverskaffer in die land,” voeg sy by.

Adres: Kom maak kennis met die Mahindra Vaal-span, hoek van Hans Strijdom- & FW Beyersstraat, Vanderbijlpark.
Foon: 016 931 0055
