Local newsNews

Na gesin se hartseer kry ‘Poppiedag’ kapél ‘n varsnuwe baadjie

Die kerkie het 'n interessante maar ook 'n hartseer geskiedenis...

 

MIDVAAL. – Die Amazing Grace-kapél, ‘n kerkie in Kliprivier waar Poppiedag (Armistice Day) jaarliks herdenk word, het onlangs ‘n splinternuwe voorkoms gekry.
Verskeie organisasies, insluitend die FAK en Vaal-Kultuurnetwerk, Vereeniging Bukshee Shellhole Moths en Vanderbijlpark Sandy Shellhole Moths, die verfverskaffer @Paint en ander helpers het hande gevat om die kerkie ‘n nuwe laag verf te gee en die omgewing op te knap.

“Die son het ons lekker gevang maar die werk is met ywer aangepak en afgehandel,” sê mnr. Jan Danie Malan van die FAK/Vaal-Kultuurnetwerk. Hy het Mark Walkden en Hubert Sowerby vir hul insette bedank, en in besonder ook vir Jérard Naude van @Paint, wat die verf geborg het. Spesiale dank gaan ook aan Okkie Jooste van Transmart, wat die versnaperinge, koeldrank en worsbroodjies tydens die werksaamhede verskaf het.

“Gedurende die projek is vriendskapsbande onder die Afrika-son gesmee wat nie met geld gekoop kan word nie. Nogmaals baie dankie aan elkeen betrokke,” sê Jan Danie.
Volgens Mark Walkden van Monumentjagters SA was die rede vir die besluit om die kapél op te knap, om dank te betuig aan mev. Roxy du Toit, ‘n lid van die familie wat die kerkie opgerig het. “Sy doen elke jaar groot moeite om vir ons ‘n gedenkdiens te reël en vra nooit iets terug nie. Sy doen ook uitgebreide gemeenskapsdiens in die omgewing en ons het besluit om iets vir haar in ruil daarvoor te doen,” sê Mark.

Die kerkie het ‘n interessante maar ook ‘n hartseer geskiedenis: Dit was ‘n droom van die Du Toit-gesin, Roxy, André en hul twee dogters Michelle en Nicole, om die kerkie in Kliprivier op te rig, en die bouwerk het in 2010 begin. Michelle het ongelukkig baie siek geword en is in 2011 oorlede, waarna die bouwerk tot stillstand gekom het. In 2012 het die gesin besluit om die kerkie ter nagedagtenis aan Michelle te voltooi. Dit is toe vir ‘n hele paar troues, dope en Kersliedere by Kerslig-geleenthede gebruik.

In 2017 het die Du Toits besluit om die kerkie te benut om tydens Poppiedag hulde te bring aan soldate wat in die Grensoorlog gesterf het, sowel as aan almal wat op een of ander manier geraak is deur oorloë waar hulle vir vryheid en hul geloof geveg het.

Die Amazing Grace-kapél lyk weer splinternuut nadat dit onlangs deur plaaslike organisasies opgeknap is.
Mark Walkden (links) van Monumentjagters SA en ook lid van ander kultuurorganisasies, bedank Jérard Naudé van die verfverskaffer @Paint vir die donasie van verf wat gebruik is om die kapél ‘n nuwe voorkoms te gee.
Die kerk voor die opknappingswerk.
Die kapél spog na die opknappingswerk met ‘n splinternuwe laag verf.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button