Opdatering: Zandré terug in Sasolburg na groot operasie in Bloem
Hy maak goeie vordering, hoewel hy nog baie pyn het.
SASOLBURG. – Hoewel Zandré van Wyk nog baie pyn het, gaan dit onder omstandighede goed met hom nadat hy Dinsdag ‘n groot operasie ondergaan het om sy gebreekte bene te heg.
Vaalweekblad het verlede week berig oor Zandré (27), wat op 4 Desember ernstig beseer is in ‘n botsing tussen sy voertuig en ‘n trok. Die botsing het laat die aand op die R59 naby Vaalpark gebeur.
Zandré is aanvanklik in die Sasolburg-hospitaal opgeneem, maar ‘n dag na die ongeluk na Bloemfontein oorgeplaas vir spesialisbehandeling.
Volgens sy pa, mnr. André van Wyk, is ‘n lang operasie Dinsdag by die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein op Zandré uitgevoer.
“Ons het gedink hulle gaan net sy regterbeen en regterknie opereer, maar hulle het toe ook sy regter-enkel sowel as sy linkerbeen en linkerknie gedoen. Hy het ‘n moeilike nag na die operasie gehad en het in dié stadium nog baie seer, maar ons is dankbaar dat alles gedoen is,” sê André.
Zandré is intussen per ambulans teruggebring na die Sasolburg-hospitaal. Hy en sy gesin hoop dat hy gou ontslaan sal kan word om verder tuis aan te sterk.
Lees die vorige berig oor die ongeluk hier: https://www.citizen.co.za/vaalweekblad/news/2024/12/16/jong-man-van-vaalpark-erg-beseer-in-botsing-met-trok/

