NewsSport

Rubriek: ‘n Snotklap is geen grap

Danie van Heerden is nie bang om met homself gek te skeer nie.

Wanneer iemand van ‘n snotklap praat is daar twee manne wie onmiddellik in my verbeelding opspring, Budd Spencer en Terrence Hill.

Hulle was miskien nie die eerstes om hierdie gesindheidsveranderingtegniek toe te pas nie, maar hulle het dit wel in hul rolprente vervolmaak.

Dit gaan miskien voorkom asof ek myself gaan weerspreek maar verdra my verwaantheid.

Ek is mal oor kontaksportsoorte soos rugby, boks en in ‘n mindere mate hokveg en kaalkneukel boks.

Vroeër die week het die ratte in my kop begin draai toe ek ‘n foto van onse eie Danie van Heerden gesien het.

Dik gedonner. Blou-oog en ‘n lekker geswelde wang en ‘n mondskerm voel bloed.

So lyk Danie van Heerden na sy onlangse klapgeveg.

Danie het al geboks, geskopboks en sy stempel in die oktagoon afgedruk. Hy is ‘n rowwe derduiwel wat ‘n hou kan uitdeel en vat.

Sy bynaam is nie verniet ‘Pitbull’ nie. Die gebore en getoë Vaaldriehoeker is tans deel van Dana White se Power Slapreeks wat skokgolwe deur die wêreld gestuur het. Die sport geniet wêreldwyd groot aanhang.

Ek moet bieg dit is bitter lekker om na te kyk. Veral as jy jou persoonlike frustrasies in jou geestesoog begin uitleef. Maar mens moet jouself afvra watter letsels en blywende skade hierdie atlete gaan oorhou.

Diegene wat gladiators soos Danie aanpor gaan beslis nie eendag daar wees wanneer dinge skeefloop nie.

Hoor my lied iemand gaan nog ernstig seerkry. Beroepsboksers kan miljoene uit gevegte en borgskappe verdien.

Nie eers hokvegters verdien naastenby soveel soos boksers nie, wat nog van ‘n sport wat in sy babaskoene is. In boks en ander kontaksportsoorte kan jy darem rondbeweeg en probeer om die voltreffer te ontwyk.

Hier staan jy tjoepstil en wag vir die slag. In ‘n snotklap-tweestryd moet jy eerstens hoop dat jy die loot wen en eerste klap.

Wanneer jy aan die ontvangkant is, moet jy hoop dat jou granietkakebeen jou gaan red of dat jou teenstander ‘n af dag beleef.

Want, boetie, van hierdie ouens en vrouens mag maar klappe uitdeel. Al wat ek weet is dat ek nie vir so iets sal stilstaan nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button