Daar is groei op die outistiese spektrum
Nadya Vermeulen verstaan die vreugde en pyn om 'n kind met spesiale behoeftes groot te maak, en Carel Rabe verstaan hoe moeilik die pad vir 'n persoon met outisme is om te reis.
VANDERBIJLPARK – Carel Rabe sit rustig en gesels, ten spyte van die lawaai vanuit die sitkamer, die gewoel rondom hom. Merkwaardig want Carel is op die outistiese spektrum.
Hy word 19 die jaar en is op 8 jaar gediagnoseer. Sy ma, Nadya Vermeulen, sê Carel was van babadae baie siek en hulle het gedink van sy simptome het met sy siekwees te doen gehad.
“Ek onthou hy was vreeslik teruggetrokke toe hy in die kleuterskool was en baie gehoor sensitief. Hy kon nie ‘n lawaai om hom verduur nie.” Op 8 is hy nie net as ‘n outis gediagnoseer nie, maar ook met erge disleksie.
“Hulle het vir my gesê hy sal nooit kan lees of skryf nie,” vertel sy. “Ek lees baie,” kom Carel tussenbeide. Sy gunstelinge is wetenskapsfiksie, fantasiëe en tans is hy besig met ‘n boek van Percy Jackson en hy het die hele Harry Potter reeks gelees.
Dan kyk hy ook graag Star Wars, Transformers en Young Sheldon. Ook nie net om te ontspan nie. Carel besit die uitsonderlike vermoë om karakters te analiseer en te bepaal watter karakters toon tekens van bv. outisme.
Hy gesels lekker, maar sukkel soms om die woorde te formuleer om homself verstaanbaar uit te druk. Carel dink in prentjies. Woorde is moeiliker.
Hy het veral ‘n stryd met emosies. “Wanneer ek kwaad word of hartseer is, is dit baie intens. Soos ‘n vuur wat brand of ‘n swart wolk. Toe ek jonger was het ek regtig gesukkel om dit te beheer, maar nou gaan dit beter. Ek weet daar is ook altyd lig,” verduidelik hy.
Hy is tans in jaar 3 in Krugerlaan skool in Vereeniging. “Ek was eers in die SID (severely intellectually disabled) groep, maar is nou in die MID (mild intellectually disabled) groep,” brei hy uit.
“Ek is baie trots op hom. Hy ontwikkel op sy eie tyd. Dit was ‘n lang pad tot hier, maar daar is altyd hoop en hy werk baie hard,” vertel Nadya blinkoog.
“Musiek is ook vir my goeie terapie,” glimlag Carel. “Geluide en lawaai pla my nou nie meer so baie nie.” “Hy het uit sy sensitiewe sensoriese fase gegroei,” sê Nadya.
“Ek dink ouers moet besef hul outistiese kinders word ook groot, hulle verander ook. Geen kind kan op 19 meer dieselfde wees as op 8 nie. Die grootste fout wat ouers kan maak is om outistiese kinders in watte toe te draai. Gee hul van kleins af die tools om eendag so onafhanklik moontlik te wees.”
Carel is in Krugerlaan se koshuis en hy sê self hy is bly hy is, want dit het hom soveel meer selfstandig gemaak.
