Rubriek: Troustaaltjies wat jou hare sal laat rys
Die waarheid is inderdaad vreemder as fiksie

‘n Bruidegom en ‘n strooimeisie stap by ‘n kroeg in… Of is dit nou ‘n kelder…? Dit klink miskien soos die storielyn vir ‘n goeie grappie.
Maar, toe nou nie. Die waarheid is inderdaad vreemder as fiksie. Wat as troufotograwe en die mure van kerke en trouplekke kon uitpraat? Wat sou hulle vertel?
En wat sou die eindresultaat wees? Wie weet, miskien ‘n topverkoper in sagte en hardeband formaat.
Die gesprek het die afgelope naweek toevallig gestalte gekry, toe ek en my medefotograaf/videograaf/ontwerpkunstenaar na ‘n troue gery het.
Ek kan nie presies onthou hoe ek en Franna op die onderwerp afgekom het nie, maar die staaltjies wat ons met mekaar gedeel het, was skokkend, lagwekkend, ‘bisar’ en vreesaanjaend alles in een.
Die staaltjie van die bruidegom wat vir ‘n uur na die seremonie spoorloos verdwyn het, om adelvoggies saam met die strooimeisie in ‘n halfbeligte, klam kelder te gaan “proe” was net die begin.
Watter wingerdstokke en druiwetrosse hulle besoek het en wie hulle betrap is steeds ‘n raaisel.
Al wat ons weet daar was suurdruiwe nadese. Een ding is verseker dat die fotograaf ‘n sluk van verligting kon slaak. Sy fooi was darem vooruit vereffen. Daar is myns insiens drie primêre soorte troues.
Die eerste kan as ‘n kliniesekolonoskopie-troue beskryf word. Dit word haarfyn en delikaat beplan en benader sodat daar geen verkeerde draaie gemaak of afritte geneem word nie. Dan is daar die sprokiestroue wat so skaars soos hoendertande is, niks oordrewe nie.
Pragtig, eenvoudig sonder enige familie onderstrominge. Dan is daar die derde soort troue wat soos ‘n episode van Jerry Springer onder die oppervlak prut. Dis senutergend en opwindend, want jy weet nie wanneer gloeiende magma by die vulkaan gaan uitbars nie.
Aangeklamde familielede wat handsakke in ‘n parkeerarea buite die “onthaalsaal” rondswaai, is ook nie ‘n vreemde verskynsel nie. Wat wel buitengewoon is, is wanneer die fotograaf geskakel word en meegedeel word dat die paartjie nie meer die troufoto’s benodig nie.
Hoe bedoel mevrou nou? Eendag was daar ‘n bruid, ‘n broer en ‘n broodjie in die oond… Die keer sal jy nie verkwalik word as jy wens dat dit die begin van ‘n grappie is nie.
Maar toe nou nie. Dit kan wel moontlik werk as die lirieke vir ‘n Amerikaanse Country-liedjie wat op ‘n banjo deur ‘n man met een geeltand gespeel word terwyl hy ‘n grashalpie kou.
So, as jy weet van iemand wat by ‘n troue die kat in die donker geknyp het of dominee wat te veel “hoesstroop” by ‘n bruilof vir sy “slegte bors” nuttig, kontak vir Ettienne en Franna.
Jy mag dalk net ‘n eervolle vermelding in ons boek: Troudag – van staaltjies tot piepie-straaltjies! kry. *PS dis ‘n werkende titel. Moet asseblief nie daaroor Claes (satiriese misspelling).
