Luna, ons groet met groot hartseer
Vir meer as twee jaar was Luna se welstand en doen en late kort-kort in die Vaalweekblad. Hy het van geraamte tot spogperd ontwikkel, maar toe kom die afskeid...
VEREENIGING – Luna, die prins van die Be Our Guest Retirement Yard is laas Maandagoggend vroeg oorlede. Die perd was sy eienaar, Yvette Wilde, se oogappel nadat sy hom sowat 2½ jaar gelede gekry het.
Luna was toe reeds 20 jaar oud, ‘n geraamte met sy kop wat amper op die grond gehang het. Hy het gelyk of hy wou opgee op die lewe. Stadig maar seker het Yvette en haar mense Luna se liefde en respek gewen en het hy weer pure perd geword, gewig opgetel en begin pronk.
Vrydagmiddag het een van die werkers vir Yvette kom roep. Luna het, teen sy geaardheid, in sy stal gelê. Hulle het hom dadelik opgehelp en met hom begin stap. Die veearts is ingeroep. Inspuitings is toegedien en daar is elke twee ure seker gemaak hy is nog okay.

Saterdag was hy weliswaar ‘n bietjie beter, maar Yvette het weer die veearts laat kom. Nog ‘n nag van Luna op pas het gevolg. Yvette en haar werkers, Lennie en Blessing, het elke uur met Luna gaan stap. Selfs deur die nag. Maar, niks wou help nie.
Luna se toestand het bly versleg. Hy is met koliek impaksie gediagnoseer. “Ek vermoed dis omdat hy al die jare nie die nodige medikasie vir ontwurming gekry het nie. Sy ingewande kon net nooit heeltemal herstel nie,” het ‘n hartgebroke Yvette gesê.
Sondagnag het hul besef Luna is besig om dood te gaan. Alhoewel hul nog met hom gestap het, het sy ledemate begin styf word. Teen 03:00 het Yvette vir Ashley Ness en Marlien de Klerk van die DBV in die hande gekry.
Ashley het haar oor die foon moed ingepraat, terwyl Marlien vir Philip Zaayman gekontak het. Hy het van Sasolburg gery om Luna uit sy pyn te verlos.
“Dit was net verskriklik om te sien hoe Luna gely het. Ons het hom met ‘n seil toegemaak. Ek het nog gewonder hoe ons die gat gegrawe gaan kry voordat die ander perde hom sien, toe was Genine Steyn en haar pa, Theo, reeds daar met die TLB,” vertel Yvette.
Luna rus nou in die diere begraafplaas op die Be Our Guest Retirement Yard se gronde. “Hy het na my toe gekom op ‘n tyd wat ek hom nodig gehad het. Dit was net nadat my kinders geïmmigreer het en my een hond dood is. Ek dink hy het sy werk gedoen. Maar, ons mis hom alreeds,” het Yvette afgesluit. Rus sag ou grote. Jy was die beste.
