Local newsNews

Ek sê maar net… Dit was die eerste een

RUBRIEK - Dit was 'n lekker verrassing om weer in die gesin vas te loop met wie ek my heel eerste onderhoud vir die Vaalweekblad gehad het. Lees hier...

RUBRIEK – Ek het op 20 Januarie 2020 by die Vaalweekblad geland. Die eerste opdrag van Elsje aan my, wel regte storie opdrag – die “bel die hoërskole en vind uit van die matriekuitslae” tel nie – was om ‘n storie in Vaalpark te gaan opvolg.

Die twee foto’s wat oorspronklik saam met die artikel in Vaalweekblad verskyn het in 20220. Leandri Scheepers saam met haar pa, Derick Hartey en baba Milanique. Foto’s Gerda Bruinette

Oor ‘n dooprokkie, wat op daardie stadium 109 jaar oud was, en die 21ste baba wat daarin gedoop sou word die Sondag. Was vreemd vir my om sommer so by vreemdes in te stap met ‘n kamerasak oor die skouer en ‘n notaboek in die hand.

Maar die mense was baie vriendelik en klein Milanique Scheepers het geweet hoe om haar flikkers vir die kamera te gooi.

Die eerste keer wat die dooprok gedra is, was in 1911 deur Japie Visagie, ‘n oom van Milanique se oupa, Derick Harley. Die storie en fotonemery het goed afgeloop en ek was trots toe dit in die koerant verskyn.

Daarna het ek al baie onderhoude gedoen, artikels geskryf en foto’s geneem. So met verloop van tyd vergeet van die besondere dooprok. Dit was totdat ek op 1 Mei my by Lion Jay & Friends se Country aand bevind het.

Soos my gewoonte is, het ek op ‘n stadium my weg gebaan tussen die tafels deur om te kyk wie ek kan afneem. Die blondekop dogtertjie het my oog gevang en haar familie het vir my heel vrolik gelyk.

Ek staan toe maar nader om aandag te trek. In ‘n saal waar Country musiek weerklink kan mens nie sommer net praat nie, jy moet seker wees jy het die ander persoon se aandag.

Die vrou draai na my toe en haar gesig verhelder. “Gerda!” My brein werk oortyd, ek weet ek ken haar, maar een en een wil nie twee maak nie.

“Onthou jy die 109-jarige dooprok?”, vra sy. “Daar is die dopeling nou al vyf jaar oud,” beduie sy na die blondekoppie.

“Wow, dit was my heel eerste storie by die Vaalweekblad,” en dit ontaard in ‘n gegroetery uit ‘n ander wêreld. Ek neem die foto, kry die name. Klein Milanique se oupa, Derick Harley, maak ook sy verskyning vanuit die half skemerte.

“Maar jy is mos…” begin hy. “Ja, pa, dis Gerda wat destyds die dooprok kom afneem het,” voltooi Leandri sy sin.

Ek loop met ‘n breë glimlag weg en met groot dankbaarheid in my hart dat my heel eerste storie vir die koerant ‘n goedvoel storie was. Lekker om te sien dit gaan goed met hulle.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button