MEYERTON – Die Demokratiese Alliansie (DA) in Gauteng eis dat die Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, dringend die vervalle Jim Fouché-brug in Meyerton herstel, aangesien dit ’n ernstige veiligheidsrisiko vir padgebruikers inhou.
Hierdie verlate provinsiale brug is nie onderhou nie. ’n Diep sloot het aan die kant van die pad ontstaan. Dit is ’n gevaar vir beide voetgangers en motoriste wat die pad na en van die nuwe winkelsentrum gebruik, wat die verkeer laat toeneem het.
Verder is die toestand van die brug vererger deur onwettige myners wat in die gebied werksaam is.
Die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer het in Maart ’n inspeksie van die brug uitgevoer, maar tot op hede het niks gebeur nie.
Volgens die verklaring wat deur die DA uitgereik is, is dit die norm vir Premier Panyaza Lesufi om eers te reageer nadat iets gebeur het. Luidens die verklaring moet die LUR Diale-Tlabela ophou om reaktief op te tree en dadelik begin om hierdie brug te herstel. Die DA gaan glo ‘n skrywe aan LUR Diale-Tlabela rig om die redes vir die vertragings in die herstel van hierdie brug vas te stel.
’n DA-geleide Gautengse provinsiale regering gaan glo ’n oudit van alle brûe uitvoer om vas te stel watter brûe dringend herstel moet word sodat dit geprioritiseer kan word
