Adjunkhoof keer terug na sy alma mater
Vaalweekblad het nader kennis gemaak met Laerskool Kollegepark se nuwe adjunkhoof. Lees meer hier...
VANDERBIJLPARK – Dis moeilik om te bepaal wie sien meer uitgesien het na 2 Junie, Laerskool Kollegepark of hul nuwe adjunkhoof Mnr. Hendrik Botha. Die skool het voorverlede week al hul nuwe adjunk op hul Facebookblad aangekondig.
“Ons is ongelooflik opgewonde om Mnr. Botha in ons skoolgemeenskap te verwelkom. Met sy passie vir onderwys, sterk leierskap en liefde vir kinders, weet ons dat hy ‘n waardevolle aanwins vir ons span gaan wees,” het ‘n gedeelte van die boodskap gelees.
Hendrik het ook uitgesien na vandag. Hy ken Kollegepark goed. Hy was self daar van Graad 1 – 7 en onthou hoe hy en sy krieket- en rugbyspanmaats jaar na jaar die liga gewen het.
Sy hoërskooljare het hy by Hoërskool Driehoek deurgebring, meeste van die tyd ook op die sportveld. Hy wou onderwyser word, maar weens ‘n gebrek aan finansies het hy gedink hy sou nie kon gaan swot nie.
Dit was totdat die voormalige hoof van die Laerskool Eligwa, Mnr. Vorster hom genader het om as student by die skool aan te sluit. “Dit was net genade en op die regte tyd. Eligwa het vir al my studies betaal en ek was as een van die studente by die skool aangestel.”
“’n Mens kan sê Eligwa het my grootgemaak,” lag hy. “Ek gaan die skool mis. As ek al die tyd by hulle van my studentedae tot nou toe bymekaar tel, dan was ek 16 jaar daar.”
Hendrik sê alhoewel sy hoofvakke op universiteit wiskunde en geografie was, het hy al alles aangebied behalwe kuns en Engels. “Ek is bietjie bang vir Engels,” beduie hy.
Sy vrou, Wilmarie, lag lekker oor hy so wegskram vir Engels praat. Sy is nou al geruime tyd die hoof by Oakwood Primary School (voorheen Prestigious Aureate Primary School).
Die egpaar het mekaar op skool ontmoet toe albei deel was van die orkes. “Ek weet nie wat ek sonder Hendrik sou gedoen het by my skool nie,” vertel Wilmarie. “Hy het my die afgelope jare vakansie na vakansie gehelp om Oakwood se skoolgrond en geboue op standaard te kry.”
Dis duidelik dat die twee gewoond is om saam uitdagings aan te pak. Behalwe die Comrades marathon. Hendrik het al twee keer die Comrades aangepak en hy onthou dat dit hoeka die huidige hoof van Kollegepark, Mnr. Coenie Herbst was wat hom deur daardie eerste Comrades gehelp het.
Dis opmerklik hoe Coenie en Hendrik dieselfde rustigheid uitstraal, maar met ‘n ondertoon van beslistheid en ondeunde oë. Kollegepark julle is in goeie hande!
