Local newsNewsNews

ELM se onbefondsde begroting het verreikende gevolge

VANDERBIJLPARK - Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het onlangs sy sewende onbefondsde konsepbegroting vir die 2025/25-finansiële jaar goedgekeur.

Volgens rdl. Gerda Senekal van die VF Plus gaan dit verreikende gevolge vir inwoners inhou.

“Dié onbefondsde begroting beteken dat geprojekteerde uitgawes die verwagte inkomste gaan oorskry. Dit kan ook dienslewering verder verswak en nog meer finansiële onstabiliteit meebring,” verduidelik sy.

“Die konsepbegroting beklemtoon die afhanklikheid van eksterne befondsingsbronne soos die nasionale tesourie (NT) se begrotingsgerief vir infrastruktuur om belangrike projekte te steun. Die NT het reeds beklemtoon dat munisipaliteite met onbefondsde begrotings geloofwaardige befondsingsplanne moet voorstel om inwoners te dien. Dit het nie gebeur nie”.

Volgens Senekal het die NT beveel aan dat munisipaliteite ‘n realistiese inkomsteprojeksie moet verseker en uitgawes moet belyn om fiskale dissipline te handhaaf.

Raadslid Gerda Senekal.

Alhoewel die spesifieke assessering nie in die begroting uiteengesit is nie, onderstreep die algemene riglyne die behoefte aan deursigtige finansiële beplanning.

Die begroting maak voorsiening vir aansienlike tariefverhogings wat 15,3% vir water en 10,74% vir krag insluit.

“Die verhogings het reeds openbare teenkanting ontlok, met inwoners wat dit as onregverdig beskou weens die munisipaliteit se voortdurende diensleweringsuitdagings soos kragonderbrekings, watertekorte en infrastruktuurprobleme,” sê Senekal.

Opposisie partye het die munisipaliteit ook gekritiseer oor sy ongemagtigde uitgawes, gebrek aan behoorlike toesig en die aanspreeklikheid van amptenare.

“Die onbefondsde status van Emfuleni se begroting, tesame met voorgestelde tariefverhogings en historiese finansiële wanbestuur, onderstreep die dringende behoefte aan omvattende fiskale hervorming.

“Betrokkenheid van die NT en die nakoming van sy riglyne sal deurslaggewend wees in die ontwikkeling van ‘n volhoubare finansiële plan wat dienslewering verseker en openbare vertroue herstel,” sluit Senekal af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button