
Die betowering van eerste ware liefde is die naïwiteit dat dit nooit gaan eindig nie. Dis mooi en onskuldig, maar wanneer die realiteit tref maak dit bitterlik seer. Ons almal kan ons eerste ware liefde onthou.
Wanneer jy in ‘n kokon van liefde toegespin word. Terwyl die meisies hulle troues beplan word seuns deur hul oerinstink en Neandertal-brein gedryf om hul gekose maat oor die kop te slaan en grot toe te sleep. Darem het moderne hofmakery bietjie meer verfynd en beskaafd geraak.
Ek was onlangs in die onbenydenswaardige posisie om die traumatiese effek eerstehands vanuit ‘n ander perspektief te ervaar wanneer ‘n voëltjie uit ‘n liefdesnessie geskop word.
Net soos die babavoëltjie is dit hartverskeurend om die uitskopslag te sien gebeur, maar ‘n ongelooflik belonende ervaring wanneer die voëltjie uiteindelik begin vlieg.
Maar dit beteken nie dat daar nie wit blertsies weens die trauma op iemand se skouer beland het nie. Dis nie ‘n lekker leerskool nie, maar beslis effektief. Die grootste mark vir populêre musiek is liefdesliedjies soos Anneli van Rooyen se Eerste Liefde wat in 1983 ‘n treffertjie was.
Maar soos die komediant, Casper de Vries, in een van sy eenmanvertonings jare gelede uitgewys het, is daar ‘n mark vir haatliedjies vir die gebroke bondeltjies mense wat probeer om ‘n liefdesteleurstelling te verwerk. Miskien moet mens Snotkop en kie se hulp inwin.
As hulle kan wegkom met name vir liedjies soos sy nuutste treffer Pokkenvoes, dink ek hulle kreatiwiteit en vulgêrheid kan beter aanwend word in die nuwe voorgestelde genre.
As ‘n trotse gesinskoerant sal ons nou nie haatspraak, naamskending en crimen injuria aanhits nie, maar soms is daar ‘n verskuilde terapeutiese effek om ‘n boks ‘n doos te noem. Staan sterk en onthou daar’s ‘n fyn lyn tussen liefde en haat!
