Ek sê maar net… Dit was ‘n propperse gatslag
RUBRIEK - Wanneer sal ek tog leer dat ek nie meer 20 is nie? Net omdat mens dink jy kan, is nie te sê jy kan nog nie en die valslag was hard. Lees meer...
RUBRIEK – Ek loop al heel week soos ‘n eend. Trek gesig as ek in en uit die kar klim. Steun as ek moet opstaan. Alles omdat ek gedink het ek kan nog, en toe kon ek nie meer nie.
Saterdagoggend besluit ek om beenhare te skeer. Badkamer is nie baie groot nie. Wasbak nie te hoog nie en ek doen wat ek altyd gedoen het.
Balansseer op my linkervoet en lig en laat sak regtervoet sonder moeite in die wasbak. Te oulik. Op die gladde teëlvloer lê ‘n badkamermatjie en ‘n ou handdoek vir ingeval ek mors.
Die probleem kom toe ek my linkervoet in die wasbak moet kry. My regterenkel het ‘n skroef in weens die gebrek aan ‘n gewriggie wat stabiliteit moet handhaaf.
“Hoe moeilik kan dit nou wees?” dag ek so by myself en my linkervoet land in die wasbak. Die volgende oomblik toe besluit regtervoet die wêreld is te onstabiel en begin wankel.
Teen die tyd wat ek linkervoet opgelig het, het regtervoet, handdoek en matjie alreeds disproporsioneel na regs geskuif.
Êrens in die proses het ek die skeermes laat los, maar daar was nêrens vashouplek nie. Die stortdeure reg agter my was gelukkig oop, want ek land met ‘n slag, elmboë en boude eerste in die stort.
Gelukkig het niemand gesien nie, maar die slag was hard. En die laaste ding wat ek wil hê is dat ek so gevind moet word. Stadig, baie stadig draai ek om tot op my knieë.
Alles brand, maar ek sien geen bloed nie. My hart klop van pure skrik in my ore. Vat ‘n ruk om regop te kom. Geen bloed nie, maar ‘n skraap bokant my een elmboog.
Adrenalien het seker ingeskop want ek kom deur die dag se dinge sonder te veel pyn. Saterdagnag begin ek die seer rondom my stuitjie te voel.
Ek sluk pynpille, lê op my linkersy – enige ander posisie word ‘n nagmerrie. Teen Maandag sluk ek pynpille en beweeg al hoe stadiger. Wat ek lat val bly op die grond lê. Buk kan ek nie buk nie.
Dinsdag gee ek moed op en kontak my dokter. Hy is op verlof, maar ken my goed en stuur laataand ‘n voorskrif deur. Woensdag is ek vlak na oopmaaktyd by die apteek.
“Gaan jy nou weer terug klim in die bed?” wil die jongedame weet. “Nee, ek gaan nou werk.”
“Miskien moet jy net eers een van die pille drink saam met daai, anders raak jy dalk aan die slaap.”
Ja sê ek en ry tot by die huis waar ek summier twee van die pille saam met die ander drink. By die werk kan hulle sommer sien die pyn is nog groot. Ek loop stadig. Moeisaam.
“Wag tot die pille begin werk. Dan sal jul sien.” Twee ure later sukkel ek om ‘n storie te laai. Dit verdwyn van Word af. Ek kry dit nie op die webtuiste nie en hoekom is ek nou in die uitlegstelsel?
Ek lees wat ek geskryf het. Lyk soos ‘n geheime kode. Ouch… nee, dit was nie my stuitjie nie, dit was my nek.
Ek loer benoud oor my skouer om te sien wie het daai stukkie visvang sweepslag waargeneem. Ek moes dalk na die vrou in die apteek geluister het.
Ten minste het die pille al die stuitjiepyn so bietjie verdoof, al was dit ook nou saam met my breinselle wat veronderstel is om op en wakker te wees.
