Ondersoek oor Vilano se dood glo Vrydag afgehandel
Saunders se familie smag na antwoorde
VANDERBIJLPARK – Die Valke Rugbyunie (VRU) se ondersoek rondom die dood van die 20-jarige Vaaldriehoekse rugbyspeler, Vilano Saunders, behoort eerskomende Vrydag afgehandel te wees.
So sê Ettienne de Lange, hoof uitvoerende beampte van die VRU. Die familie van Saunders wat op Saterdag 3 Mei ‘n noodlottige nekbesering in ‘n o.21-wedstryd teen Springs Rugbyklub opgedoen het en op 5 Mei in die Sebokeng hospitaal oorlede is, het by monde van Hennie Venter hul misnoeë uitgespreek oor die gebrek aan terugvoering wat hulle van die VRU ontvang het.

Saunders, ‘n tweedejaar onderwysstudent aan die Noordwes Universiteit se Vanderbijlparkkampus, het sy nek in die heel eerste skrum van die wedstryd gebreek. Hy het op haker gesak ’n posisie waarvoor hy na bewering min tot geen opleiding gehad het nie.

Hy is op die veld gestabiliseer en na die Midvaal Privaat Hospitaal in Vereeniging geneem waar hy skanderings ondergaan het. Hy is later na die Sebokeng Hospitaal oorgeplaas, waar hy in traksie geplaas is. Hy het geen gevoel van sy nek ondertoe gehad nie en is as ‘n kwadrupleeg geklassifiseer. Hy is op 5 Mei oorlede in afwagting op ‘n nekoperasie.

