Rassie se kopspeletjies hou rugbykenners wakker
Boonop is die Baba Bokke as die Wêreldkampioen vir 2025 gekroon nadat hulle die All Blacks oortuigend geklop het.
Daar is baie vrae wat my wakker hou in dienag. Nommer een is wat gaan politici en weldoeners doen as die slaggat-soustrein stop? Hoe gaan hulle relevant en in die publieke oog bly?
Hulle sal buitekant die boks moet begin dink, dink ek. Nog kwelvrae is waar kom geel sneeu en karwagte vandaan en hoe het ons ooit sonder hulle klaargekom? Die vraag oor waar die volgende geslag Springbok-wenners vandaan gaan kom, is tans nie op enigeen se lys van kopsere nie. Daarvoor het Doktor Rassie Erasmus gesorg.
Die Springbokke het onder sy wyse leiding die middelpunt van belangstelling van wêreldrugby geword. Terwyl almal begogel sit en toekyk na sy truuks op die veld is hy besig om met die ander hand iets te brei.
Rassie het dit reggekry om in almal se koppe in te klim. Die Springbokke spog met soveel diepte in elke posisie. Losskakel was nog ‘n probleem posisie om adjudante te vind. Die manne kry gewoonlik bitter min speelkans om hul voete te vind en word soms vir die wolwe gegooi, vra maar vir die belowende Gaffie du Toit. Vandag staan Manie Libbok, Handré Pollard, Sacha Feinberg-Mngomezulu en Jordan Hendrikse tou. En die diepte is amper in elke posisie te vinde.
Boonop is die Baba Bokke as die Wêreldkampioen vir 2025 gekroon nadat hulle die All Blacks oortuigend geklop het.
Die fisiekheid en vaardigheidsvlakke van elke Baba Bok was opvallend en onheilspellend. Die bebrilde en kaalkop rugbykenners van Nieu-Seeland en elders se slaap gaan hulle nog vir lank ontwyk.
Ek moet sê ek was destyds ‘n ongelowige Thomas toe Rassie op die Vrystaatstadion se dak ‘n ligvertoning gelewer het, maar dit was juis sulke buite-die-boks-denke wat Suid-Afrikaanse rugby reggeskud het.
Eers was daar ‘n “bom squad” toe die briljante voorafbeplande skrumbesluit dat Damian Willemse ‘n skrum teen die Hane moet vra nadat hy ‘n merk geroep het. Daarna was dit die fris senter, André Esterhuizen, wat op flank gesak het en die lynstaan/agterlyn-beweging wat die Spaghetti-eters en wêreldrugby laat gal braak het.
Die boontjietellers gaan ook nie hoef te vra hoekom die oud-skeidsregter Tappe Henning as lid van die Springbokkamp ‘n salaris trek nie. Reëls word bestudeer en skuiwergate word gevind.
As die skoen aan die ander voet gesit het sou ons waarskynlik ook geneul het. Of dit nou teen die sogenaamde gees van rugby indruis, is gelukkig nie vir my om te bepaal nie.
Dit bly geniaal. Voorts. Erasmus-hulle is nie die eerste met die lynstaan/agterlyn beweging nie en ook
nie die eerste om skopaangeë te gebruik nie. As mens kyk na die 80’s en 90’s was daar ‘n beskeie losskakel in ‘n ligbloutrui wat gereeld sy regtervleuel Deon Oosthuizen met skopaangee drieë laat druk het. Die ligblou generaal se naam was Naas Botha. Ek het tydens die Rhinoweek vir
streekspanne weer tot die besef gekom hoe Suid-Afrikaanse rugby besig is om te verander. Wanneer ‘n o12 en o13-rugbyspeler skopaangeë met sekerheid en op ‘n tikkie uitvoer, moet jy weet rugby is besig om te verander. Suid-Afrika sal nooit sy genetiese voorliefde en predisposisie vir fisieke spel
verloor nie, maar daar is nou finesse en panache daarby en dit maak Springbokrugby bitter gevaarlik en kosbaar. Vandaar die peperduur kaartjiepryse. Maar dit daar gelaat.
Miskien kort plaaslike en nasionale politici ‘n Rassie Erasmus om ’n nuwe koers in te slaan en met vernuwende denke vorendag te kom. Om slaggate reg te maak is so laasweek. Staan sterk en Viva die Bokke!
