Wedren-seisoen skop op bittersoet noot af
VEREENIGING - Daar was met groot opgewondenheid uitgesien na die aanbreek van die wedren-seisoen by Ultimate Outlaws Raceway. Dit was egter ook 'n hartseer aand, wat gepaard gegaan het met 'n spesiale huldeblyk aan wyle Willem Stols (beampte en voormalige renjaer).
Donker wolke in die aandlug het die ware gevoel vasgevang van vriende, familie en renjaers se gemoed wat Saterdag by die Ultimate Outlaws was vir die begin van die wedren-seisoen, maar die keer sonder wyle Willem Stols.
Willem (66) wat die afgelope vyf jaar nierprobleme gehad en dialise ontvang het, het op 25 Julie ‘n terugslag gehad en is in die ICU by Mediclinic Vereeniging opgeneem.
Hy het ‘n onbekende infeksie opgedoen wat tot orgaan versaking gelei het. Hy het op 27 Augustus die stryd verloor.
Willem se gedenkdiens is die dag tevore op 5 September by Meyerton Christian Center gehou.
Voor Saterdag se wedrenne afgeskop het, is ‘n spesiale optog en huldeblyk aan Willem opgedra.
“Die familie wil elke persoon bedank vir hulle ondersteuning in die afgelope maand en ons is dankbaar vir elke boodskap, telefoonoproep, besoeke en pragtige blomme. Ons sal dit altyd onthou,” het Willem se vrou Feda gesê.
- Meer oor die aand en nog aksie foto’s van Saterdag se wedrenne in Vrydag se Vaalweekblad.
















