VANDERBIJPARK – Amper agt dekades gelede was Vanderbijlpark beperk tot die gebied rondom die Pioneer House en die winkelkompleks oorkant die straat.
Huise vir Yskorwerkers was in die strate rondom die gebied in wording. Hennie van der Westhuizen se pa, Corbid, was een van die manne wat Yskor in 1944 begin het en Hennie sê hy is in die tweede huis wat gebou is in 1948 gebore.

“Dit was Lindenstraat 9. Ons het 15 jaar daar gebly.” Hy was in Laerskool Hendrik van der Bijl en Hoërskool Vanderbijlpark. “Ek dink dit was hier in die laat 1950’s,” beduie hy.
Onlangs het Hennie op ou skool foto’s afgekom en dadelik gewonder wat van sy klasmaats geword het. Daar is ‘n klasfoto van toe hy in Sub B was, of dalk was dit standerd 1.
‘n Paar rugby spanfoto’s en ‘n foto van Hoërskool Vanderbijlpark se kadetorkes. “Ek het nie van kadette gehou nie, daarom het ek in standerd 6 al deel geword van die kadetorkes.

“Amptelik mag mens eers van standerd 7 af in die orkes wees, so ek was vir ‘n jaar lank die enigste lid in gewone skoolklere,” onthou hy.
Hy onthou hoe die orkes tydens die weeklikse dubbel kadetperiode na Cecil Oldridge toe gemarsjeer het om daar op die velde te gaan oefen.
“Dan het almal stilgestaan en vir ons gekyk,” lag hy. Uit sy hoërskooldae staan een onderwyser vir hom uit, Mnr. Daan van Rooy.
“Hy was kwaai, maar ek het my liefde vir geskiedenis by hom gekry.” Dis amper moeilik om te glo, maar mnr. Van Rooy was ook hierdie einste joernalis se gunsteling onderwyser.
Waar hy as jongman vir Hennie-hulle klas gegee het, het hy net voor sy aftrede vir ons klas gegee.
Hennie is ‘n bron van stories uit sy skooljare van die 50’s. Hy sal graag weer met van sy skoolmaats wil kennis maak.
Indien enige een hom nog onthou, of graag die foto’s wil sien, kan hulle hom gerus kontak by 072 646 3421.
