Brandslagoffer sterf na twee jaar lange stryd
Herman Putter van Vanderbijlpark het baie beproewings verduur nadat hy in 2023 ernstige brandwonde in 'n fratsongeluk opgedoen het. Vaalweekblad se innige simpatie aan sy gesin.
VANDERBIJLPARK – “Dit was ‘n groot skok vir ons. Hy het nog die oggend met ons gepraat, hoewel hy gesukkel het om asem te haal, en toe in ‘n kwessie van ‘n paar ure was my pa net weg.”
Dit is die hartseer woorde van Bernadine Muller, dogter van die ontslape brandslagoffer Herman Putter, wat namens die gesin met Vaalweekblad gesels het.
Herman, oorspronklik van Parys, het later in Potchefstroom skoolgegaan. Hy was ‘n ware sportman – ‘n atleet en bokser in sy jong dae.
As jong man het hy na Vanderbijlpark verhuis en was vir sowat 25 jaar by ArcelorMittal (destyds Yskor) werksaam.
Sy lewe het dramaties verander in die parkeerarea van sy woonstelblok, waar hy die vrou van sy drome, Daleen, ontmoet het.
Hul motors het langs mekaar geparkeer gestaan en die aanvanklike groete en geselsies het gelei tot ‘n koffie-date, ‘n vaste verhouding van twee jaar, en toe die groot stap.
Die paartjie sou volgende jaar hul 40ste huweliksherdenking vier, ‘n huwelik wat twee dogters opgelewer het.
Fratsongeluk
Hul sorgvrye wêreld is egter op ‘n September-oggend in 2023 in skerwe gelaat.
In ‘n fratsongeluk het Herman se klere aan die brand geraak toe hy ‘n kartondoos aan die brand wou steek.
Wat hierop gevolg het, was twee jaar en twee maande van uiterste pyn, lyding, hospitaalbesoeke en baie gebede.
Ná die ongeluk het Herman meer as 100 dae in die intensiewesorgeenheid deurgebring. Hy is in 2024 na ‘n rehabilitasiesentrum oorgeplaas en kon uiteindelik ná maande se behandeling huis toe gaan.

Maar sy uitdagings was nog nie klaar nie. Op 16 September vanjaar is Herman weer in die hospitaal opgeneem.
Hy het ‘n vyf uur lange operasie ondergaan om vergroeisels en vernouings in sy derms te verwyder. Komplikasies het egter ingetree en op 27 September is gaatjies in sy derms gevind.
Op 1 November is Herman na die Wits Donald Gordon-hospitaal oorgeplaas vir verdere behandeling.
‘n Hoë koors het ontwikkel en ná verdere toetse is hy gediagnoseer met ARDS (Acute Respiratory Distress Syndrome). Dié lewensgevaarlike longkondisie veroorsaak dat ‘n pasiënt se longe faal as gevolg van vogophoping en ernstige ontsteking.
Die stryd het verskerp toe sepsis (bloedvergiftiging) deur sy hele liggaam, tot in sy beenmurg, versprei het.
“Hy was in ongelooflike pyn en sy toestand het vinnig agteruit gegaan,” sê Bernadine.
Daar is besluit om Herman op ‘n ventilator te plaas en hom onder sedasie te hou. “Ons as gesin was heeldag om sy bed tot hy sy engelvlerkies op 8 November om 21:10 gekry het,” sê Bernadine.
Herman sal onthou word as ‘n saggeaarde, behulpsame man met ‘n fyn humorsin en ‘n “uithouvermoë wat skrik vir niks.”
Sy gedenkdiens is op 18 November vanuit die AGS Dinamika Kerk in Vanderbijlpark gehou.
Die familie bedank die plaaslike gemeenskap vir al die hulp en bystand die afgelope twee jaar.

