Gauteng se beste skaakspelers speel Vaal aan die brand
Sedibeng Skaak verdien 'n pluimpie vir die Kampioenskap

VANDERBIJLPARK – Gauteng se generaals van die blokkiesslagveld het Saterdag 6 Desember by die Emerald Resort en Casino tydens die Inter-Streek Skaakkampioenskap gewys dat daar hope talent in die provinsie is.
Die kampioenskap word vanjaar deur Sedibeng Skaak aangebied. Die eerste drie rondtes het baie verrassings en skaak uit die boonste rakke opgelewer.
Sowat 1 200 spelers het soos sardientjies in die Emerald Arena gesit wat onlangs deur Togo Sun oorgeneem is.
Hannes en Susan Mittermaier van die Sedibeng Skaak en hul plaaslike reëlingskomitee verdien ‘n klop op die skouer vir die kampioenskap wat hulle aanmekaar getimmer het.
Kampioenskappe soos hierdie is ook ‘n groot finansiële inspuiting vir die streek en gemeet aan die gehalte van die kampioenskap kan Skaak Suid-Afrika met ‘n geruste hart Sedibeng Skaak met nog kampioenskappe toevertrou.
Die kampioenskap se laaste twee rondtes vind Sondag 7 Desember plaas em beloof om nog goeie skaak op te lewer.





