RUBRIEK – Dit het eenmaal voorheen gebeur. Nou nie eintlik iets waaroor mens wil praat nie, maar ‘n joernalis weet mos nie van stilbly nie.
Ek was in standerd 6 en het vir die o14B-span hokkie gespeel. Die Saterdag het die meisies hokkie en netbal teen die eertydse Hoër Handelskool Lettie Fouché gespeel, terwyl die rugbyspanne mekaar op Carel de Wet se velde gepak het.
Synde dat ek in die jongste en laagste span op die ranglys was, het ons eerste gespeel. Plaas het ek daarna huis toe geloop, maar nee, ek is mos rugbymal en het my sit langs die rugbyveld gekry.
Ek was vasberade om die eerste spanne te sien speel. Wat ek toe ook gedoen het. Probleem was ek is baie vroeg by die huis weg.
Teen die tyd wat die spanne klaar gespeel het, het ek ‘n nood ontwikkel. ‘n Grote. Maar, die skool het ek nie geken nie, en alhoewel min mense my nou glo, was ek ‘n introvert op skool.
Daar staan ek toe met ‘n keuse. Sal ek huis toe loop, dit was in CW1 of na my tannie-hulle toe in Westinghouseboulevard? Ek is rigtingbeduiweld gebore en afstand skat is nie my sterkpunt nie.
Ek besluit om na my tannie-hulle te loop. Soos ek in die pad afstap, so word die nood al hoe groter. Ek het tokse aan, so vinnig loop en knyp was ‘n probleem.
Teen die tyd wat ek hul hek oopgemaak het, was dit te laat. Tot my kouse was nat. Ek het verleë by die agterdeur gaan staan en my niggie geroep.
Die deur was oop, maar ek kon nie ingaan nie. Sy het my een kyk gegee, my nood besef, eers later gelag en ‘n sweetpakbroek gaan uitgrawe.
So het ek my heel eerste rit in haar nuwe, tweedehandse kar gekry met my hokkie rompie, broek en kouse in ‘n plastiese sak op my skoot.
Nou die anderdag kom ek laatmiddag van ‘n onderhoud af. Ek het koffie gedrink by die kantoor. Ek het koeldrank gedrink by die onderhoud. Buite het die wolke dik en donker gelê en nog ‘n storm voorspel.
Plaas vra ek maar net of kan ek gou die badkamer gebruik, maar om die storm te vermy en omdat my introversie soms steeds kop uitsteek, besluit ek daarteen.
Alles het goed gegaan tot ek by die hek gekom het. Ek kry dit nie oop nie. Dit begin reën, maar uiteindelik is ek en myse Ford Mich onder die afdak.
Knyp-knyp kry ek al my goed uit die motor en toe… Laat val ek die huissleutels. Moeilikheid.
Jy al probeer buk en knyp op dieselfde tyd? Dit reën al hoe harder. Ek het geen keuse nie. Ek buk om die sleutels op te tel.
Die knyp aksie gaan verlore. Nodeloos om te sê ek het dadelik eers wasgoed gewas en gestort voordat die honde die aand kos gekry het.
