RUBRIEK – Vlak voor 07:00 Woensdagoggend het die nuwe graadeens by Laerskool Kollegepark begin opdaag. Ma of pa aan die hand. In sommige gevalle met oupa en ouma agterna.
‘n Mens erken ‘n graadeentjie op ‘n myl. Die seuntjies se kortbroeke sit nog so half onder die knie. Die skoene se punte blink. Hare is netjies platgekam.
Die dogtertjies se rooi rokkies is plek-plek bietjie aan die groot kant. Hang ver verby die knieë. Hare in groot rooi strikke vasgemaak. Poniesterte. Stywe vlegsels.
Nuwe tasse op wieletjies word agter hul aangesleep. Die tasse lyk groter as hulle. By Kollegepark kry elke nuweling die kans om ‘n klok te lui, ‘n soet koudingetjie by ‘n leerlingraadslid met ‘n mandjie te kry, en te staan dat ma of pa foto’s kan neem.
Dan moet hulle op die gras onder die boom by hul nuwe juffrou en klasmaats gaan staan. Dis ‘n hele tafereel wat voor my afspeel. Van die kinders wat die klok optel en dit laat lui en lui totdat mamma moet verduidelik dis nou genoeg, ander wil dit ook doen.
Ander wat vassteek voor die klok by die tafel met die helder balonne en vreesbevange bly staan asof die klok hulle gaan pik. Vir party is die klok amper te swaar, maar hulle hou dit dapper vas vir ‘n foto.
Nie almal gaan staan dadelik by hul klasmaats nie. Solank ma of pa nog in die omtrek is, is dit veel beter om die wêreld van langs hulle te beloer.
‘n Seuntjie heel voor in die ry trek my aandag. Hy wil duidelik nie in die skool wees nie. Praat nie. Staan net terwyl twee trane stadig paadjies maak oor sy wange. Hy vee dit nie af nie. Hy bly net staan.
Seuntjie langs hom praat ‘n hond uit ‘n bos uit. Vertel my sy mangels gaan uitgehaal word. Vandag nog, hy kan nie lank by die skool wees nie.
In die ry langsaan wil ‘n jongman weet wanneer is dit nou pouse. Die skoolklok het nog nie eens gelui nie.
“Ag nee man, jy gaan jou nuwe skoene se punte stukkend skop,” hoor ek ‘n pa raas. Ek kyk op. Dis klein Zanru Samons. Hy is besig om teen die boom uit te klim. Ek lag.
Sy pa is Clinton, een van die Vaaldriehoek se professionele liggaamsbouers en ook nie iemand wat van stilstaan hou nie. Aardjie na sy vaartjie.
Die skoolklok laat hoor sy stem oor die terrein en die groter kinders spaander klasse toe. Van die ouers bly staan langs hul kinders, ander begin hek toe beweeg.
Hul oë blink, party sin rooi. Duidelik maak die groot skool ding ‘n groter impak op die ouers as die kinders. Sela!
