Local newsNewsNews

AfriForum hooggeregshof toe oor Wonderfontein-ontwikkeling

AfriForum waarsku dat die ontwikkeling die gemeenskap en omgewing kan benadeel en vra vir openbare steun teen die projek.

SASOLBURG – AfriForum se saak teen die Wonderfontein-ontwikkeling naby Sasolburg kom op 23 Februarie voor in die Hooggeregshof in Bloemfontein.

 

Hulle wil die minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se besluit om die ontwikkeling toe te laat, laat tersyde stel omdat hulle meen die minister het dit onregmatig van sekere bepalings van die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur vrygestel.

 

AfriForum het reeds in Augustus verlede jaar sy aanvullende verklaring vir die tweede deel van die hofsaak geliasseer.

 

Al die ander partye, insluitend die minister en die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit, moes teen Oktober verlede jaar hul antwoordende verklarings ingedien het, maar hulle het versuim om dit binne die voorgeskrewe tydperk te doen.

 

Die munisipaliteit het eers op 23 Januarie 2026 sy stukke geliasseer – meer as 111 kalenderdae laat.

 

AfriForum het die dokumente ontvang en reeds sy repliserende verklaring, asook sy hoofde van argument ingedien.

 

Die minister het verlede jaar aangedui dat hy die saak sal opponeer, maar tot op hede is geen stukke ontvang nie. Dieselfde geld vir die Vrystaatse departement van Menslike Nedersettings, wat ook aangedui het dat hy die saak gaan opponeer.

 

Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die Sentraalstreek, sê die partye se trae optrede in die saak laat ernstige vrae oor die regering se toewyding tot die ontwikkeling.

 

“Indien die projek werklik in die gemeenskap se belang is, sou die regering die nodige tyd afstaan om dit in die hof te verdedig.

 

Hierdie patroon van nalatigheid en onbevoegdheid is presies die rede waarom die Metsimaholo-munisipaliteit nie in staat is om basiese dienste te lewer nie.”

 

In die eerste deel van die hofsaak, wat op 16 Oktober 2025 aangehoor is, het AfriForum aangevoer dat die ontwikkeling dadelik gestaak moet word aangesien die nodige wetlike prosesse en goedkeurings, soos vereis deur die munisipale tribunaal, nie gevolg is nie.

 

Die ontwikkeling kan dus die omgewing en die plaaslike gemeenskap negatief raak indien dit voortgaan. AfriForum wag steeds op uitspraak in dié deel van die saak. Intussen gaan bouwerk voort, wat die dringendheid vir regspraak en aanspreeklikheid beklemtoon.

 

“Miljoene rand word aan ’n nuwe dorp spandeer, terwyl die munisipaliteit nie eens behoorlik dienste aan die bestaande gemeenskap kan bied nie.

 

AfriForum gaan nie stilsit terwyl ondeurdagte besluite, onwettige prosesse en swak beplanning die toekoms van die gemeenskap en die omgewing in gevaar stel nie,” sluit Grobbelaar af.

 

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om kapsie te maak teen die ontwikkeling en dié petisie te onderteken.

 

Die gemeenskap se steun sal AfriForum help om verdere druk te plaas sodat owerhede verantwoordbaar gehou word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button