Hoe gemaak as jy ‘n skilpad langs die pad sien?
Die Diere Beskermings Vereniging (DBV) gee die nodige raad.
1. Stop en doen ’n assessering. Is dit naby huise of ’n voorstad? Dit mag dalk ’n troeteldier wees wat ontsnap het. (Sien punt 4!)
Is dit naby die veld, ’n reservaat of oop stuk grond? Indien wel is dit waarskynlik ’n wilde skilpad wat doen wat skilpaaie nog altyd gedoen het … hy is bloot op pad iewers heen.
2. Het die skilpad regtig hulp nodig? Die meeste skilpaaie is nie in die moeilikheid nie. Om die natuur te help, beteken dikwels om nie in te meng nie.
3. Skuif dit slegs as dit in onmiddellike gevaar is. As verkeer die skilpad in gevaar stel, skuif dit versigtig in die rigting waarin dit reeds op pad was. Lig die skilpad met albei hande op, ondersteun die voor- en agterkant sowel as die onderkant. Maak seker jy hou dit gelyk (horisontaal).
Moet dit nooit omdop nie. Te veel hantering veroorsaak stres. Onthou ook dat skilpaaie dalk mag urineer wanneer hulle bang is, wat veroorsaak dat hulle noodsaaklike water verloor en die risiko van ontwatering loop. Skuif ’n skilpad slegs as dit absoluut noodsaaklik is vir sy veiligheid.
4. MOET NOOIT ’n wilde skilpad huis toe neem nie. Alle skilpaaie in Suid-Afrika word deur die wet beskerm. Dit is onwettig om skilpaaie aan te hou, te verkoop of te hervestig sonder die nodige permitte. Om skilpaaie in gevangenskap aan te hou (selfs vir ’n kort rukkie) veroorsaak lyding, dop-misvormings, stres, siektes en ’n vroeë dood.
5. Moenie skilpaaie koop wat langs die pad verkoop word nie. Om ’n skilpad (of enige wilde dier) te koop “om dit te red,” stimuleer die onwettige handel in wildlewe en lei daartoe dat nog meer skilpaaie uit die natuur verwyder word.
As jy sien dat ’n skilpad verkoop word, meld dit onmiddellik aan by die DBV, die Nasionale Raad van DBV’s (NSPCA), of jou plaaslike natuurbewaringsowerhede.
6. Wanneer om in te gryp. As die skilpad beseer is of duidelik ’n troeteldier is wat ontsnap het, neem dit na jou naaste DBV of ’n NSPCA-geakkrediteerde wildrehabilitasiesentrum. Hierdie sentrums weet hoe om te help en wanneer dit veilig is om diere na die natuur terug te plaas.
* Wildlewe hoort in die natuur. Respekteer dit. Beskerm dit!
