Slakkepas verander in spoedvraat-bevolking
Die reuse Afrika slakke is bekend vir hul indrukwekkende grootte, maar hulle is ook berug vir hul vrugbaarheid.
VANDERBIJLPARK – Wat begin het as ’n oulike en opvoedkundige projek vir haar kleuterskoolklas, het vinnig in ’n reusagtige uitdaging ontaard vir die plaaslike onderwyseres, Elfie Kleynhans.
Met die hoop om haar kleuters die fynere kunsies van troeteldierversorging en deernis vir die natuur te leer, het Elfie twee Giant African Snails (Reuse Afrika Slakke) as klaskamer-metgeselle aangeneem.
Alles het seepglad verloop, totdat die natuur oorgeneem het.
Omdat hierdie spesie hermafrodities is en die vermoë het om hulself te bevrug, het Elfie op ’n dag ontdek dat haar slakke ’n enorme vrag eiers gelê het. Kort voor lank was daar nie meer net twee slakke nie, maar ’n horde van meer as 50 babaslakke.
“Die slakke eet hoofsaaklik slaaiblare, maar as jy ’n paar grotes het, of in hierdie geval ’n hele kleuterskool vol kleintjies, gaan jy baie vinnig deur ’n groot hoeveelheid kos moet werk,” vertel Elfie.
Soektog na ’n nuwe tuiste
Met die besef dat die versorging van soveel slakke ’n groot verantwoordelikheid geword het, het Elfie haar tot die gemeenskap gewend.
Sy het op Vaalweekblad se Facebookblad om raad gevra in die hoop om die babas aan ’n gespesialiseerde natuurreservaat of “sanctuary” te skenk.
Die reaksie was oorweldigend. In plaas van net organisasies, was daar talle individue wat dadelik aangebied het om van die slakke as troeteldiere aan te neem.
Elfie het intussen haar oorspronklike groot slakke aan ’n nuwe eienaar in Sasolburg oorhandig (Jeanine Hodgkinson), maar sy is uiters versigtig oor waar die res van die nageslag heen gaan.
“Ek wil hê die slakke moet goed versorg word en oorleef,” beklemtoon sy.
Indien sy nie ’n amptelike sanctuary kan vind nie, beplan sy om die belangstellendes streng te keur. Sy wil seker maak dat elke nuwe eienaar presies weet waaroor die versorging van hierdie fassinerende wesens gaan voordat sy hulle weggee.
Spesifieke sorg om te floreer
Dieet: Hulle benodig vars groente en kalsium (dikwels in die vorm van eierdoppe of “cuttlefish bone”) vir hul dopontwikkeling.
Omgewing: ’n Humiede, klam habitat is noodsaaklik.
Beheer: Eienaars moet bewus wees van hoe vinnig hulle kan voortplant om ’n herhaling van Elfie se situasie te voorkom.
Het jy geweet?
Die Giant African Snail (Lissachatina fulica) kan tot 20 cm lank word. In baie dele van die wêreld word hulle as ’n indringerpes beskou omdat hulle honderde plantspesies kan verorber en geen natuurlike vyande in stedelike tuine het nie.
