Local newsNewsNews

Lance Oosthuizen: ‘n Baken van hoop in jou donkerste ure

Lance se droom om mense te help het reeds op die ouderdom van nege vlamgevat. Hy het toe reeds gedroom om 'n paramedikus te word.

VEREENIGING – In die hoë-druk wêreld van nooddienspersoneel is Lance Oosthuizen (54) ’n naam wat onmiddellike respek afdwing. As ‘n hoogs gekwalifiseerde Advanced Life Support (ALS) Paramedikus en kapelaan in sy vrye tyd by Frontline of Hope Ministries, bied hy ’n unieke kombinasie van gevorderde mediese hulp en emosionele ondersteuning op die uitdagendste ongelukstonele.

“Nooddienspersoneel het bloot nie die tyd om mense op ’n toneel te kalmeer nie; hulle moet veg om lewens te red,” verduidelik Lance as kapelaan.

“Dis waar ons inkom. Wanneer hulle op ons knoppie druk, weet hulle die getraumatiseerde families – en selfs die polisie en brandweermanne – is in goeie hande.”

Lance is ‘n Valie deur-en-deur. Hy was in Milton Primary en Riverside High en het na skool by Saint Johns Ambulansdienste aangesluit en opleiding gekry.

Lance Ooshuizen as ‘n jong paramedikus aan die begin van sy indrukwekkende loopbaan.

Baanbreker

Lance het in 1990 sy nooddiensloopbaan by die Vereeniging Brandweer begin. In 1996 het hy geskiedenis gemaak as die eerste paramedikus by dié brandweerstasie wat die gesogte ALS-kwalifikasie behaal het.

Sy kundigheid was so hoog aangeskryf dat hy Suid-Afrika in 1997 by ’n internasionale nooddienskompetisie in Engeland verteenwoordig het.

“Ek is lief vir mense, lief daarvoor om mense in moeilike situasie by te staan,” vertel Lance. Sy kennis en passie beteken dat mense dubbeld geseënd is as Lance by ‘n ongelukstoneel opdaag, want hy kan gevorderde fisiese en emosionele hulp bied.

Met 36 jaar se ondervinding agter die rug, erken Lance dat sommige tonele jou altyd sal bybly.

Hy was onlangs as kapelaan betrokke by die tragiese taxi-ongeluk waarin 14 leerders gesterf het.

“Toe ek daar opdaag en ’n geharde brandweerman eenkant sien staan en huil, het ek geweet die trauma is enorm,” sê hy. “Mens word nooit gewoond daaraan wanneer ’n kind sy lewe verloor nie.”

Lance Oosthuizen by een van die talle ongelukstonele waar hy hulp moes verleen. Foto: Pierre Wheeler

Van wonderwerke tot haai-aanvalle

Sy loopbaan is egter nie net gevul met hartseer nie, maar ook met vreemde en wonderbaarlike gebeure.

Lance moes eenmaal reageer op ’n noodroep oor ’n haai-aanval op die N1 in Gauteng! Dit blyk toe ’n lewendige haai was besig om vervoer te word vanaf Natal na die Pretoria Dieretuin.

“‘n Haai moet swem om asem te haal, en toe die manne wat die vervoerwerk behartig sien die haai beweeg nie, het een sy voet in die watertenk gesit om die haai liggies te skop. Die haai was egter te vinnig vir hom.” vertel Lance.

In ‘n ander voorval tydens ’n vroeë oggendongeluk op die Villierspad het reddingswerkers naarstiglik gesoek na ’n baba op die agtersitplek in sy stoeltjie was tydens die ongeluk.

Na ’n angstige soektog, wat soos ure gevoel het, is die kleintjie veilig en salig binne-in die motor se babasiebak gevind – vas aan die slaap sonder ‘n besering.

Of hy nou die mediese beheer van ‘n toneel oorneem of ‘n stukkende hart heelmaak, Lance bly passievol. Vir die gemeenskap van die Vaaldriehoek is hy meer as net ’n paramedikus; hy is ’n baken van hoop in hul donkerste ure.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button