Local newsNewsNews

Jeanine is trots op haar ‘dieretuin’

SASOLBURG - Sy was nog altyd lief vir diere. As sy hulle kan red dan red sy hulle. Nou spog Jeanine Hodgkinson (36) met haar eie klein "dieretuin" by die huis.

Onder haar sorg tel drie honde, ‘n konyn, drie goudvisse, drie duiwe, vier reuse Afrika slakke, ‘n skinny pig, ‘n krimpvarkie en drie baba voeltjies wat sy na verlede week se storm in die pad opgetel het.

Tussendeur die versorging van haar diere, is Jeanine ook ma van die eenjarige George jnr. wat omring met diere grootword. Sy gunsteling speelmaat? Chester, die Skinny Pig.

Hoewel die naam dalk laat dink aan ’n varkie wat dieet en ure in die gimnasium deurbring, is Chester eintlik maar net ’n byna haarlose marmot.

Gelukkig is haar man, George snr. ook lief vir diere.

“Soms spot my man met my dan sê hy ‘nee lief, die dieretuin is nou toe’,” vertel Jeanine laggend. Tog is hy haar grootste ondersteuner in haar missie om na weerlose diere om te sien.

Jeanine Hodgkinson wys hoe oulik is Chester die Skinny Pig. Foto: Elsje Vermeulen

“Aangenome kinders”

Die meeste van Jeanine se diere is “aangenome kinders” wat by haar beland het omdat hul vorige eienaars nie meer vir hulle kon sorg nie.

Soos einste Chester wat noodgedwonge ‘n nuwe tuiste moes kry omdat sy vorige eienaar se katte hom as ’n “reuse rot” beskou het. Sy lewe was in konstante gevaar, maar by Jeanine kan hy veilig en rustig wees.

En Lilo en Stich (twee reuse Afrika slakke) vir wie daar ‘n veilige tuiste gesoek was. Hulle deel nou hul nuwe woning (‘n groot vistenk) met Zoe en Garry.

Zoe het sy by ‘n dieretuin opgetel met ‘n stukkende dop. En Gary is ‘n boorling uit haar tante se tuin in Pretoria. Danksy die regte kos en habitat, het Zoe se stukkende dop intussen herstel.

Jeanine is deeglik bewus daarvan dat haar slakke vinnig kan vermeerder.

Sy het egter reeds ’n plan: as daar kleintjies kom, sal sy nuwe eienaars met die grootste sorg uitkies om te verseker dat hulle in goeie hande beland.

Een van Jeanine se vier reuse Afrika slakke. Foto: Elsje Vermeulen

Skinny Pigs

Skinny Pigs het nie haarloos in die natuur ontwikkel nie. Hulle het in die laat 1970’s in ‘n laboratoriumomgewing ontstaan as gevolg van ‘n spontane genetiese mutasie.

Navorsers het hulle geteel om ‘n lyn van haarlose marmotte vir dermatologiese studies te skep. Uiteindelik het hulle hul pad na die troeteldierbedryf gevind vanweë hul eienaardige, dog innemende voorkoms.

Ontmoet vir Chester, Jeanine se skinny pig. Foto: Elsje Vemeulen

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button