Suid-Afrikaners maak hul beursies vir liefde oop
Die liefde is dalk mooi, maar vanjaar gaan dit waarskynlik ook ’n merkbare hap uit Suid-Afrikaners se begrotings neem.
Omdat Valentynsdag 2026 op ’n Saterdag val, het verbruikers ’n volle naweek om romanties te verkeer en FNB verwag dat die bestedingsvlakke dit sal weerspieël.
Akshay Bhayroo, FNB se hoof van kleinhandelbesteding, meen die verlengde tydperk gaan veral ’n hupstoot gee aan reis, akkommodasie, geskenke en uitetetes. “Valentynsdag gaan al hoe meer oor hoe mense kies om tyd saam deur te bring, eerder as net wat hulle koop,” sê hy.
Dat Suid-Afrikaners bereid is om hul beursies vir die liefde oop te maak, is duidelik uit verlede jaar se data.
Volgens FNB het 7,6% meer kliëntetransaksies op Valentynsdag gedoen. Winkelsentrum-besteding het R209m beloop (‘n styging van 16% jaar-op-jaar), terwyl aanlyn-besteding R84m bereik het (‘n styging van 1,5%).
Gedurende die Valentynsweek van 2025 het die totale besteding op kredietkaarte R1,76 miljard beloop, met aanlynbesteding wat met 6% jaar-op-jaar gestyg het.
Mans was verantwoordelik vir 57% van die kliënte wat geld bestee het, terwyl vroue 43% uitgemaak het.
Besteding was gekonsentreer in groot stedelike gebiede, veral Sandton, Pretoria en Kaapstad, wat die voortgesette vraag na premium- en ervaringsgerigte aanbiedinge beklemtoon.
FNB se klante tussen die ouderdomme van 30 en 49 was die aktiefste spandeerders.
Op Valentynsdag self het kredietkaartaankope met 11,4% toegeneem vergeleke met die vorige jaar. Klante tussen 20 en 29 jaar het die hoogste groei getoon, met besteding wat met 32% jaar-op-jaar gestyg het.
Kategorieprestasie op die dag self was besonder sterk: akkommodasie het met 14% gestyg, sjokolade met 18,3%, blomme met 28,4%, geskenke met 31,1% en restaurantbesteding het met 25,8% toegeneem.
Bhayroo herinner verbruikers egter om nie in die romanse van die oomblik van veiligheid te vergeet nie. Hy moedig die gebruik van veilige digitale betaalinstrumente aan om te verseker dat bedrieërs nie met jou swaarverdiende geld wegloop nie.
