VEREENIGING – Op 6 Februarie het Dorothea Johanna ‘Kleintjie’ Vermeulen haar 100ste verjaardag by Avondrus Ouetehuis gevier.
Haar bynaam, Kleintjie, verwys na haar klein gestalte — maar moet beslis nie hierdie tannie onderskat nie!
Tannie Kleintjie is steeds baie aktief en loop graag buite in die tuin.
Sy het tot diep in haar 80’s haar eie kar gery en take in die huis self gedoen.
By haar kerk was sy deel van die Vrouevereniging. Sy is ook lief vir kuns.
Volgens Santie Tennant, bestuurder van Avondrus Ouetehuis, is Tannie Kleintjie amper 10 jaar lank ‘n inwoner van die ouetehuis.

Santie vertel skertsend: “Daar was gedurende die Covid-inperking mense wat die ouetehuis gesaniteer het en almal moes ontruim word. Tannie Kleintjie het net besluit sy wil nou hier in. Hulle het haar probeer keer. Sy haak toe af en skop hom op sy maarmerrie. Die ou sê toe: ‘I didn’t know such a small lady can kick so hard’.”
Tannie Kleintjie is in 1926 in Cradock gebore en het by Rocklands Girls’ School skoolgegaan, waar sy sedert sesjarige ouderdom in die koshuis gebly het.
Na standerd agt (graad 10) verlaat sy skool.
Op 5 Oktober 1946 trou sy met Johnny Vermeulen. Hy is in 1997 oorlede.
Tannie Kleintjie het 46 jaar lank as administratiewe beampte by die Departement van Waterwese gewerk, onder meer in Standerton, Steynsrus, Uitkeer en Bergville voordat sy haar later in Deneysville en die Vaaldriehoek gevestig het.
Sy was nog altyd ‘n “go-getter” wat nie maklik opgee nie.
By haar 100ste verjaardagviering was haar dogter Belita Acker en kleindogters Chantal van Wyk en Michelle Ferreira by die ouetehuis om die geleentheid saam met haar te vier.
Daar was koek, ballonne en almal het in die eetsaal saamgekom om vir Tannie Kleintjie te sing en haar geluk te wens.
Belita beskryf haar ma as ‘n “go-getter” wat nog altyd vol geloof was en nie maklik moed opgee nie.
Tannie Kleintjie het twee seuns en een dogter, talle kleinkinders en sewe agterkleinkinders.
Sy het oor ‘n eeu baie wêreldgebeure sien afspeel, insluitend die Tweede Wêreldoorlog, die apartheidsera se oorgang na ‘n demokratiese Suid-Afrika, die eerste maanlanding, en selfs die Covid19-pandemie.
Tog het sy steeds haar lewenslus, onafhanklikheid en liefde vir die Here behou, wat haar ‘n ware inspirasie maak vir almal wat haar ken.

