Marie se reuse-verrassing by Riviera Parkrun
VEREENIGING - Toe Marie Bezuidenhout onlangs as vrywilliger by die weeklikse Park Run by Riviera on Vaal ingespring het, het sy nooit kon droom dat daar so ’n reuse-verrassing op haar wag nie.
Marie is self ’n kranige drawwer wat gereeld die roete by Riviera aanpak. “Weens ’n kniebesering kon ek die afgelope maand nie self stap nie, maar ek wou steeds betrokke bly en het toe besluit om op Saterdae as vrywilliger te help,” vertel sy.
Dit was tydens haar vrywilligerdiens op 1 Februarie dat sy op ’n uitsonderlike vonds afgekom het: ’n enorme dennebol wat onder ’n boom gelê en wag het.
“Ek het nog nooit so iets gesien nie en kon hom beslis nie net daar agterlaat nie,” skerts sy.
Die dennebol is verbasend swaar, maar Marie het hom veilig huistoe karwei waar hy nou ’n ereplek in haar tuin geniet. Dit is ’n ware blikvanger wat gereeld nuuskierige bure en vriende nader lok om dié natuurwonder van naderby te beskou.
Behalwe dat dit mooi lyk in Marie se tuin, het dennebolle ook ander gebruike. Eekhorings en voëls is mal oor die olierige, proteïenryke pitte binne-in.
Vanweë die natuurlike harse daarin, brand hulle baie vinnig en warm—perfek om ’n braaivleisvuur mee te begin. Maar ons glo nie laasgenoemde is Marie se vonds (wat volgens inligting oor dennebolle, ‘n oud dame is) se voorland nie.

Interessante feite oor dennebolle
Dennebolle word dikwels net as tuinafval gesien, maar hulle speel ’n kritieke rol in die voortbestaan van dennebome.’n Dennebol is nie ’n vrug of ’n blom nie, maar die reproduksie-orgaan van ’n denneboom (genus Pinus).
Daar is twee soorte:
Manlike bolle: Hulle is klein, sag en produseer stuifmeel. Jy sien hulle gewoonlik net vir ’n kort rukkie in die lente voordat hulle afval.
Vroulike bolle: Dit is die houtagtige “regte” dennebolle wat ons ken. Hulle dra die sade (dennepitte) agter hul skubbe.
Dennebolle gaan oop as dit droog is en toe as dit reën. Die rede daarvoor is dat die boom wil hê sy sade moet versprei wanneer dit droog en winderig is, sodat die ligte saadjies ver kan trek.
Anders as die meeste plante wat binne een seisoen saad skiet, vat ’n vroulike dennebol lank om volwasse te word. Dit neem gewoonlik twee tot drie jaar vanaf bestuifing voordat die bol volgroeid is.
Daar is wêreldwyd meer as 120 spesies dennebome, en elkeen het ’n unieke bol.
Die swaarste: Die Coulter pine se dennebolle kan tot 5kg weeg (hulle word dikwels “widow makers” genoem omdat jy nie wil hê een moet op jou kop val nie!).
Die langste: Die Sugar pine s’n kan tot 60cm lank word.
