VEREENIGING – Die eerste rugbyspan van die Vereeniging Rugbyklub het gistermiddag op sy tuisveld vir Pretoria Harlequins met 40-34 geklop om sy veldtog in die Sibanue Stilwater Superliga op ‘n hoë noot afgeskop.
Of jy Quins vroeg in die seisoen of later in die seisoen klop dit bly ‘n goeie sege. Veral as jy ‘n span klop wat Gary Botha, voormalige Springbok en Wêreldbeker-wenner, afgerig word.
Botha se hand is reeds duidelik sigbaar veral in die skrums. Quins is verder bevoorreg om op die kundigheid van die voormalige Springbokstut, Ricard Bands, te kan staatmaak.

Hoewel die besoekers eerste bloed getrek het, het die tuisspan elke keer met mening teruggeslaan om uiteindelik rustyd met 24-17 voor te loop.
Afronding en wedstrydskerpheid is iets wat Ockert Brits, afrigter van Vereeniging Rugbyklub, sal bekommer maar hy sal nie die baba met die badwater uitgooi nie.


Daarvoor is daar te veel positiewes. Op senter het Andre Haarhoff, ‘n barshou gespeel en hy is welverdiend as die Speler van die Wedstryd aangewys.
VRK se puntemasjien en losskakel, Brandan Hewitt, was ook weer geolie en hy het 15 punte aangeteken.

VRK se plaasvervangerbank is ook meesterlik behartig met een speler in spesifiek, die skrumskakel Tabo Tau, wat ‘n groot impak op die tweede helfte en die uitslag van die wedstryd gehad het.
