Die hartseer realiteit van straatkatte
Feral katte is eenvoudig straatkatte en word in amper elke woonbuurt aangetref.
Alhoewel hulle nie altyd deur inwoners verwelkom word nie, is dit belangrik om te verstaan dat hierdie wollerige vriende, net soos enige ander dier, bloot probeer oorleef. Kennis is mag.
Hier is nuttige inligting oor straatkatte:
Daar is geen rede om hulle te vrees of te haat nie. ’n Kat wat in die natuur gebore en grootword, word as ’n feral kat of straatkat beskou. Sommige is egter deur hul eienaars agtergelaat. Terwyl sommige van hierdie katte ’n bietjie menslike kontak verdra, is die meeste te vreesbevange en wild om hanteer te word.
Hierdie katte leef dikwels in groepe wat kolonies genoem word. Hulle skuil oral waar hulle kos, knaagdiere, ander klein diertjies of vullis kan vind.
Eenvoudig gestel: dit is nie maklik om ’n hawelose kat te wees nie – om onbemind deur mense te wees en uiterste weersomstandighede soos koue, hitte en reën te trotseer. Hulle staar ook hongersnood, infeksies en aanvalle deur ander diere in die gesig.
Ongelukkig vrek byna die helfte van alle katjies wat haweloos gebore word aan siektes, blootstelling aan die elemente of parasiete voor hul eerste verjaarsdag. Boonop word hierdie katte bedreig deur uitwissing deur die mens.
Die gelukkiges wat deur ‘n goedhartige inwoner versorg word, of wat in ’n bestuurde kolonie leef (‘n kolonie met ’n toegewyde versorger wat sterilisasiedienste, gereelde voeding en behoorlike skuiling verskaf) kan ’n redelike tevrede lewe lei. Sommige kan tot 10 jaar oud word.

Hoe jy kan help?
Vang-Steriliseer-Vrylaat (TNR) is die metode waar straatkatte op ’n menslike manier in ’n spesiaal ontwerpte hok gevang word, gesteriliseer word, en dan na hul kolonie teruggeplaas word om hul lewens daar voort te sit.
Die punt van die linkeroor word verwyder vir toekomstige identifikasie.
TNR is die goedkoopste, doeltreffendste en mees menslike manier om wilde katbevolkings te stabiliseer. Dit is belangrik dat wilde katte gesteriliseer word, nie doodgemaak word nie!
TNR help die gemeenskap deur die bevolking van die kolonie te stabiliseer en mettertyd te verminder, terwyl die voordeel van natuurlike knaagdierbeheer behoue bly.
Dit help ook die gemeenskap se dierewelsynsbronne deur die aantal katjies wat in skuilings sou beland, te verminder.

Plaaslike programme
Drie Riviere Diere Kliniek in Vereeniging en Driehoek Diere Kliniek (Vanderbijlpark) bied ’n spesiale Feral Cat-program aan wat die huur van vanghokke teen ’n nominale fooi insluit (hulle vereis dat ’n persoon verantwoordelikheid aanvaar en die hokke monitor).
Interessante inligting
Katte kan gemiddeld tot ’n week sonder kos klaarkom, maar nie langer as 2–3 dae sonder water nie.
Katte is gewoonlik baie skoon; hulle versorg hulself verskeie kere per dag. As jy ’n kat sien wat nie skoon is nie, is die kat gedehidreer en is dit reeds vir baie dae die geval.
Die speekselkliere funksioneer nie behoorlik nie omdat dit vog benodig.
As jy ’n hawelose katjie sien, onthou dat dit reeds moeilike dae agter die rug het waarin dit waarskynlik vir ’n lang tyd niks geëet of gedrink het nie. Toon asseblief vriendelikheid of medelye, dit kan jou net ’n beter mens maak.
