Kersvader se helpers in die Vaal gesoek
Hierdie jaar vier die Santa Shoebox-projek sy 20ste bestaansjaar, en hulle is op soek na vrywilligers in die Vaal om te help.
“Die werk is hope pret en ons langtermyn-vrywilligers het baie pragtige stories om te vertel,” sê Margie Kostelac, Borgskap- en Streeksbestuurder vir die Santa Shoebox-projek in Gauteng.
Die hoofdoel is om feesvreugde aan behoeftige kinders te bring.
Elke jaar bied mense van regoor Suid-Afrika ‘n paar uur van hul tyd aan as Kersvader se helpers om toe te sien dat meer as 75 000 kinders die vreugde van Kersfees kan ervaar danksy die Santa Shoebox-projek.
Sodra die www.santashoebox.org.za-webtuiste elke jaar open vir skenkings (1 Augustus vir korporatiewe instansies en 1 September vir individue) spring die vrywilligers in elke streek aan die werk om gepakte bokse op spesifieke datums in te samel.
Hulle doen ook ‘n kwaliteitskontrole op elke boks en skakel met skole, vroeë kinderontwikkelingsentrums (VKO) en ander geregistreerde begunstigdes in hul gemeenskappe om die oorhandigings van gepersonaliseerde bokse aan elke kind op Kersvader se lys te reël.

“Die ondersteuning van ons wonderlike vrywilligers, skenkers en borge landwyd oor die afgelope twee dekades het vreugde in talle kinderlewens gebring. Om vir ‘n kind ‘n persent te gee mag dalk na ‘n klein gebaar van vrygewigheid lyk, maar dit kan ‘n groot verskil in ‘n kind se lewe maak; baie kinders koester hul briewe en geskenke tot in volwassenheid,” sê Deb Zelezniak, HUB van die Santa Shoebox-projek.
Die Santa Shoebox-projek gebruik ook finansiële skenkings van maatskappye en individue om VKO-sentrums regoor die land op te gradeer en te bou, om onderwysers op te lei, en om leeshoekies in behoeftige sentrums in te rig.
Gaan na https://santashoebox.org.za om te registreer as vrywilliger vir 2026 en deel die met jou vriende op sosiale media:
https://www.facebook.com/SantaShoebox/
https://www.linkedin.com/company/santa-shoebox-project/
https://www.instagram.com/santashoebox/
@santa.shoebox
