Minder as 50% van munisipaliteit se voertuigvloot werk
Vlootposte gaan glo eersdaags gevul word.
SASOLBURG – Die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit het vandeesweek op aantygings deur die Demokratiese Alliansie (DA) reageer en erken dat die munispale vloot beduidende uitdagings in die gesig staar.
Die DA beweer dat die voortslepende ineenstorting van dienslewering aan ‘n tekort aan werkende voertuie en swak vlootbestuur toegeskryf kan word.
DA-verteenwoordigers het onlangs kommer uitgespreek dat vullisverwydering, grassny en instandhouding van paaie en infrastruktuur grootliks aan ‘n mank vloot en swak vlootbestuur te danke is.
Volgens die DA het die munisipaliteit toenemend afhanklik geraak van eksterne diensverskaffers wat vrae oor koste effektiwiteit, deursigtigheid en toerekeningsvatbaarheid laat ontstaan.
In reaksie op ’n mediavraag het die munisipale se woordvoerder, Dr. Gino Alberts, gesê dat die rekeningkundige beampte van die munisipaliteit ingevolge Artikel 63 van die Munisipale Finansiële Bestuur Wet (MFMA) verantwoordelik is vir die bestuur van die munisipaliteit se bates, insluitend die beskerming en instandhouding van die vloot.
Alberts het bevestig dat slegs 63 van die munisipaliteit se 130 voertuie tans operasioneel is, uitgesluit dié wat vir wegdoening geoormerk is. Dit beteken dat minder as die helfte van die nodige voertuie beskikbaar is vir dienslewering.
Hy skryf die vertragings in vlootinstandhouding toe aan verskeie faktore, waaronder ’n verouderde en uitgediende vloot wat geneig is om gereeld te breek.
Beperkte interne toesig weens ’n vakante toesighouerspos, stadige uitreiking van werksopdragte, vertraging deur diensverskaffers om kwotasies of onderdele te lewer is van die grootste uitdagings.
“Gesentraliseerde verkrygingsprosesse vertraag ook die aflewering van onderdele en herstelwerk. Die munisipaliteit maak tans staat op ’n kombinasie van noodsaaklike instandhouding en beperkte voorkomende instandhouding, maar die vloot se ouderdom maak vooruitbeplanning uitdagend,” sê Alberts.
Volgens hom bestaan daar ’n vlootbeleid maar die nakoming daarvan en toesig steeds uitdagings bly in die afwesigheid van ’n toegewyde vlootoffisier. “Werwing vir die vakante vlootbestuursposte behoort teen April 2026 voltooi te wees.”
Met betrekking tot die kritiek oor uitkontraktering het Alberts gesê die munisipaliteit vir beide interne en eksterne herstelwerk begroot en het ’n paneel diensverskaffers aangestel om soos benodig word te help.
Hy het bevestig dat die munisipaliteit ook ’n vlootverhuringsprogram goedgekeur het wat volledige instandhouding, 24/7 monitering, nasporing en diagnostiese stelsels sal insluit om betroubaarheid te verbeter en herstelonderbrekings te verminder.
“Die munisipaliteit beoog om voorkomende instandhouding te versterk, prosedures vir die hantering van onklaarraking van voertuie te verbeter en telematiese data te gebruik om vlootbenutting te optimaliseer. “
Hy se voorts dat die wegdoening van uitgediende en verouderde voertuie deur die Raad goedgekeur is en teen Junie 2026 afgehandel behoort te wees, met die opbrengs wat gebruik sal word om nuwe vlootbates aan te koop.
Alberts hou vol dat hierdie ingrypings sal help om noodsaaklike dienste te herstel en die munisipaliteit se operasionele doeltreffendheid te verbeter.
