Local newsNewsNews

Waterbankrotskap ‘n realiteit plaaslik en wêreldwyd

'n Tekort aan bruikbare vars water gaan 'n probleem word.

Suid-Afrikaners word gemaan om ’n nuwe en kommerwekkende wêreldwye werklikheid ter harte te neem… waterbankrotskap. Dit is diêe stadium waar waterstelsels só oorbenut en swak bestuur word dat hulle nie meer kan herstel nie.

Die krisis in die Johannesburg-metro is ’n duidelike voorbeeld hiervan.

Die waterbesoedeling en vermorsing in die Vaaldriehoek onder die vaandel van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) is ‘n groot bron tot kommer en ELM sal eersdaags in die hof moet eienaarskap neem.

’n Onlangse verslag van die Verenigde Nasies waarsku dat die wêreld ’n “era van globale waterbankrotskap” betree het, met ernstige gevolge vir voedselveiligheid, ekonomieë en daaglikse toegang tot veilige water.

Die konsep is eenvoudig. Net soos huishoudings hul inkomste kan oorbestee, kan lande en stede meer water verbruik as wat die natuur kan aanvul.

Wanneer ondergrondse water, riviere en vleilande uitgeput of permanent besoedel is, is die stelsel in wese bankrot.

Volgens Charlotte Metcalf, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Gebottelde Water Vereniging, is waterbankrotskap nie net die gevolg van droogte nie, maar van jare se swak beplanning, gebrekkige instandhouding, besoedeling en ooronttrekking. Selfs ’n goeie reënseisoen kan nie ’n stukkende stelsel regmaak nie.

Reg oor die land sukkel munisipaliteite met verouderde infrastruktuur, groot waterverliese en besoedelde riviere.

Grondwater word dikwels sonder behoorlike studies ontgin, wat veroorsaak dat boorgate oorbenut word en waterbronne kwesbaar raak vir besoedeling.

Knysna is een van die duidelikste voorbeelde van waterbankrotskap in SuidAfrika. Ten spyte daarvan dat dit ’n hoëreënval-kusdorpie is, word dit herhaaldelik deur waternoodgevalle getref, hoofsaaklik weens swak bestuur, vertraagde infrastruktuurwerk en groeiende vraag.

Die Vaalrivierstelsel toon soortgelyke tekens: water is teenwoordig, maar al hoe minder is bruikbaar weens jarelange wanbestuur, rioolbesoedeling, vervalle rioolaanlegte en stygende behandelingskoste wat munisipaliteite nie kan dra nie.

Die VN-verslag stel dit duidelik dat baie waterstelsels wêreldwyd nie meer na hul historiese vlakke kan terugkeer nie selfs al verbeter reënval.

Die skade is permanent. Metcalf sê die VN-waarskuwing moet ’n wekroep wees om Suid-Afrika se waterhulpbronne te beskerm voordat dit permanent verlore is.

Vir verbruikers is die belangrikste om te verstaan waar hul water vandaan kom en om verantwoordelike keuses te maak. Water moet as ’n beperkte hulpbron behandel word. Selfs ná goeie reën.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button