Meer as 13 859 vuurwapens in Vanderbijlpark vernietig
Die SAPD het oor die afgelope sewe jaar reeds 305 934 vuurwapens vernietig.
Die SAPD het gister meer as 13 859 vuurwapens en vuurwapenonderdele tydens ’n vernietigingsproses in Vanderbijlpark vernietig.
Hierdie vuurwapens en onderdele is tydens polisiëringsoperasies regoor die land gekonfiskeer en daarna aan die Staat verbeurd verklaar; ander is vrywillig ingehandig.
Van ’n totaal van 13 859 vuurwapens en vuurwapenonderdele, was 11 183 van dié wat vernietig is handwapens, terwyl 1 302 gewere, 1 004 haelgewere, 34 kombinasie-vuurwapens en 336 vuurwapenonderdele was.
Die Sedibeng-distrikskommissaris, generaal-majoor Adelaide Mukwevho, is bygestaan deur die waarnemende hoof vir Vuurwapens, Drank en Tweedehandse Goedere (FLASH), brigadier Nonhlanhla Sikhakhane, en senior SAPD-bestuur terwyl sy die vernietigingsproses amptelik gelei het.
Hierdie is die tweede vuurwapenvernietigingsproses vir die 2025/2026-boekjaar.


