Local newsNewsNews

So spring jy ikoon-status los

Die skêrsprong word min in die moderne sportsera gesien, maar as hy wel 'n verskyning by 'n atletiekbyeenkoms maak, trek dit nogal baie aandag en laat mens wonder oor die onderskeie tegnieke oor die jare.

Die atletiekseisoen is volstoom aan die gang en Vaalweekblad sorg dat ons by al die grootste plaaslike atletiekbyeenkomste teenwoordig is om die aksie op kamera vas te vang.

Tydens die Hoekies se Interharte-atletiekbyeenkoms verlede Vrydag was ek besig om die seuns hoogspring af te neem toe ‘n atleet van ‘n besoekende skool, die HS Hugenote, ‘n skêrsprong uitvoer.

‘n Atleet van die HS Hugenote voer ‘n skêrsprong uit tydens die Interharte-atletiekbyeenkoms. Foto: Elsje Vermeulen

Dit is nogal nie ‘n alledaagse tegniek wat mens gereeld sien nie. Dit het my nogal laat wonder oor die verskillende tegnieke van hoogspring.

Toe kom die kersie op die koek. Ek soek na ‘n fliek om te kyk oor die naweek en kom op Raising the Bar: The Alma Richards Story af.

Dit is ’n inspirerende ware verhaal oor Alma Richards, ‘n vasberade plaasseun van Utah.

Richards was nie veronderstel om ’n Olimpiese atleet te wees nie. Hy het as kind sy been so ernstig gebreek dat dit skeef aangegroei het. Hy het geen formele opleiding, die regte liggaamsbou of selfs die “korrekte” hoogspring-tegniek gehad nie.

Hy was 1.88 m lank en het 84 kg geweeg. Afrigters het nie van sy hoogspringstyl gehou nie, en mededingers het hom selfs uitgelag.

Hoe Alma Richards oor die lat gespring het. Foto: Wikipedia

Teen alle verwagtinge het Alma sy eerste Olimpiese goud in 1912 by die Olimpiese Spele in Stockholm, Swede verower. Teen 1916 het hy nie net deelgeneem nie, hy het gedomineer as Amerika se top-tienkamper en hoogspringer. Sy persoonlike beste was 1.956 m in 1915.

Die film was reeds in April 2025 op die silwerdoek, maar as jy van sport hou kan jy dit gerus opsoek om te kyk.

Sy storie het my gefassineer. Behalwe dat dit weer eens beklemtoon het dat die mens vinnig is om ander te oordeel as hulle iets “anders” probeer, en dat jy so goed moet wees dat niemand jou dit kan ontneem nie! En hoe het hy dit reg gekry om op so manier so hoog te kon spring!?

Die ware lewensverhaal van Alma Richards.

Die rolprent draai steeds in my kop en het my begin laat wonder oor hoogspring. Wat gaan deur ‘n atleet se kop om te dink hy gaan die ou tegniek met iets anders vervang.

Soos van die skêrsprong wat jy op jou voete land, na ‘n sprong soos die Fosbury Flop wat tans aan die orde van die dag is. In plaas van voete eerste, gaan jy nou kop eerste en boonop op jou rug oor die lat!

Maar dit het darem oor ‘n tydperk tot hierdie universele metode ontwikkel.

Tydens die eerste aangetekende hoogspring-item in Skotland het springers óf ’n ingewikkelde reguit-benadering óf die skêrtegniek gebruik.

Vroeg in die 20ste eeu het die tegnieke begin verander na die Eastern cut-off (’n variasie van die skêrtegniek). Deur soos met die skêrmetode op te spring, sy ruggraat te strek en plat oor die lat te lê, het die Iers-Amerikaner Michael Sweeney die wêreldrekord in 1895 na 1.97 m opgestoot.

Hierdie styl het springers toegelaat om hoër as die tradisionele skêrstyl te spring, terwyl hulle steeds op hul voete kon land.

Alma Richards het die Western roll, ’n meer frontale, voete-eerste benadering, gebruik.

George Horine het dié tegniek verder verfyn. Hy het die lat skuins genader, die binneste been gebruik vir die wegspring, terwyl die buitenste been opgeswaai word om die liggaam sywaarts oor die lat te lei.

Daarna was dit die era van die Straddle wat vir die volgende vier dekades toegepas is. Springers het soos met die Western roll reguit opgespring, maar hul torso gedraai om met die maag na onder om die lat te beweeg.

Dit was die doeltreffendste metode van daardie tyd.

Intussen het die atlete ook vinniger, langer aanlope begin gebruik.

Die Western roll was ook die katalisator vir twee belangrike reëlveranderings:

Die eerste was die toerusting. Tot die 1930’s het die lat op penne gerus wat na agter gewys het. Springers kon die lat hard tref sonder dat dit afval deur dit teen die staanders vas te druk. Dit is later verander sodat die lat beide vorentoe en agtertoe kon afval. Daar was ook sagter landingsareas.

Die tweede verandering was die die “geen-duik”-reël, wat herroep is. Dit het toegelaat dat die kop die dwarslat voor die voete mag kruis, wat gelei het tot ’n “duik”-weergawe van die Western roll.

Maar toe kom daar ‘n deurbraak (en ek hoop daar word ‘n film oor hom ook gemaak).

Dick Fosbury was ’n alleenloper-innoveerder aan die Oregon State University, wat die sport die nuwe eeu sou binnelei. Met sy nuwe styl, die Fosbury Flop, het hy goud gewen by die 1968 Meksiko-Spele.

Fosbury het voordeel getrek uit die nuwe, kunsmatige sagter landingareas. Hy het oor die lat gegaan met sy kop en skouers eerste, en op sy rug geland (vroeër jare was daar net sand- of saagselsputte).

Die tegniek het vinnig gewild geword en is steeds vandag die gewildste, hoewel die skêrsprong so elke nou en dan weer sy kop uitsteek.

Inligting: Wikipedia

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button