Dorp-substasie: Slegte nuus vir inwoners
Raadslid Gerda Senekal van die VF Plus in Emfuleni was vanoggend by die Dorp-substasie in Curie Boulevard om ondersoek in te stel oor die skade wat weens 'n brand gisteraand aangerig is.
VANDERBIJLPARK – Die brand by die Dorp-substasie het gisteraand omstreeks 23:30 ontstaan waarna dit ongelukkig te lank geneem het om die brand geblus te kry.
Dit het daartoe bygedra dat honderde huishoudings vanoggend sonder elektrisiteit sit.
Die areas wat daaronder lei sluit in:
CW 1, 2, 3, 5, 6
Bonanne
Bophelong
Bophelong-uitbreiding
NW7Kleinhoewes
Tydens Senekal se besoek aan die Dorp-substasie, was werknemers van ELM en Eskom reeds op die toneel besig om die omvang van die skade te assesseer.
‘n Mens hoef egter nie ‘n kenner te wees om te besef dat daar miljoene rand se skade aangerig is nie.
Die hitte was so interns tydens die brand dat groot stukke yster gesmelt het. Die transformer wat die krag aan woonbuurte moet voorsien, is ook erg beskadig en kan as “scrap” metaal bestempel word.

Nuwe transformer
Die enigste silwer randjie om dié donker wolk is, is dat daar al vir sowat vier jaar ‘n nuwe 30MVA transformer op die perseel is, maar nog nooit opgekoppel kon word nie. Volgens Senekal is daar verskeie redes hoekom dit nog nie kon gebeur nie.
“‘n Kontrakteur wat die installlering hiervan sou hanteer, was deur ELM aangestel teen ‘n kontrak ter waarde van sowat R80 000 000, wat die opgradering van die hele Dorp-substasie sou insluit.
Dit het nooit gebeur nie, aangesien ELM se bankrekening in 2023 weens opgehoopte skuld attached is en die kontrakteur nie betaal was ni,” verduidelik Senekal.
Die amptelike kontrak het verlede jaar September tot ‘n einde gekom, waarna die kontrakteur heeltemal onttrek het, hoewel daar nog miljoene aan die kontrakteur verskuldig is.

Eskom
Intussen het Eskom die bestuur van die elektrisiteit-afdeling van ELM oorgeneem, en kan dit dalk nou realiseer. Die probleem is egter dat behalwe vir die feit dat nuwe kabels en ‘n deel van die substasie nuut opgebou moet word, die nuwe transformer ‘n Chinese produk is. Dit het tot gevolg dat nuwe sagteware by die substasie se battery- en panele-kamers geïnstalleer moet word.
In kort is die sagteware ‘n vereiste want anders praat die transformer chinees, en die res van die Dorp-substasie ‘n Afrika taal.
Daar is egter nog ‘n ander transformer ook op die perseel, maar hy lek olie en is net ‘n 20MVA transformer. Vir die hoeveelheid elektrisiteit wat die Dorp-substasie voorsien, moet daar na regte ‘n 60mva transformer in werking wees.
Dit is egter herstelwerk van miljoene rand wat ‘n mimimum van twee weke sal neem om reg te kry, maar dit sal waarskynlik langer neem.
Wat is die oplossing?
Volgens Senekal sal die oplossing vir die toekoms wees dat die Dorp-substasie oorgedoen word met die regte MVA-vereistes vir kragvoorsiening, met ‘n minisub tussen Bophelong en die Dorp-substasie opgerig word, om grootskaalse skade soos wat nou veroorsaak is te probeer verhoed. Maar dit alles kos miljoene rande, geld wat ELM nie het nie.
“Volgens NERSA-regulasies moet 6% van ELM se jaarlikse elektrisiteitsinkomste aan instandhouding bestee word. Dit beloop sowat R167 000 000 wat ‘n groot verskil aan die huidige stand van sake kon maak,” wys Senekal uit.
Intussen is daar baie besighede wat inkomste gaan verloor. Daar is ook baie pensionarisse en mense wat net-net bo die broodlynlewe wat nou ekstra geld gaan moet opdok om hul huishoudings aan die gang te hou. Daar is ook verskeie skole wat geaffekeer word.
Dit kring ook verder uit na die kleinhoewes waar inwoners van boorgatwater afhanklik is.
