Local newsNewsNews

Daar is weer hoop vir Parys!

AfriForum het ’n reuse-oorwinning beklink in ’n uitgerekte hofsaak rakende swak dienslewering in die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit.

PARYS – “Die afgelope maand gaan inwoners weer gebuk onder ongekende krag- en wateronderbrekings, maar hierdie bevel bied nou uiteindelik die ruimte om ware verligting te bring vir inwoners wat daaronder ly,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die burgerregteorganisasie se artikel 18(3)-aansoek wat vroeër vandeesmaand in die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein aangehoor is, is kragtens die uitspraak wat regter M. Opperman vandag elektronies gelewer het, toegestaan.

Dit bepaal dat die hofbevel wat op 20 Junie verlede jaar in AfriForum se guns gelewer is, ondanks die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl by die Konstitusionele Hof, onmiddellik geïmplementeer moet word.

Die hof het in Junie 2025 beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit se raad moet ontbind en die provinsiale regering by die munisipaliteit moet ingryp.

Sedertdien is die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl in dié saak in Augustus 2025 van die hand gewys.

Die munisipaliteit het hom daarna tot die Hoogste Hof van Appèl gewend, maar hul appèlaansoek daar is ook in Oktober 2025 van die hand gewys.

In dié uitspraak het die hof beslis daar is “geen redelike vooruitsig van sukses in ’n appèl nie en geen ander oortuigende rede waarom ’n appèl aangehoor behoort te word nie”. Intussen het die munisipaliteit aangedui dat dit die uitspraak in die Konstitusionele Hof gaan appelleer.

Vereistes

Ingevolge regter J.P. Daffue se Junie 2025-hofuitspraak moet die Vrystaatse premier, die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet:

1. ’n herstelplan implementeer om dienslewering in die munisipaliteit te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;

2. Die Ngwathe- munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word;

3. Elke drie maande onder eed aan die hof verslag doen oor die vordering wat in die bestuur van die munisipaliteit gedoen word;

4. ‘n Tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.

Slotsom

“Dit is tyd dat die munisipaliteit moet besef dat hulle nou hand aan die ploeg sal moet slaan en ook vir bekwame personeel sal moet plek maak om die diensleweringskrisis wat nou al jare lank hier voortduur in die belang van alle inwoners te beredder,” sê Pretorius.

Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, bedank die publiek vir hul ondersteuning en vertroue in AfriForum om dié saak suksesvol te kon aanpak. “Geregtigheid het nou in hierdie saak geskied.

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk om plaaslike regering verantwoordbaar te hou. Kontak Burger by 082 653 4281 om by AfriForum se Parys-tak betrokke te raak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button