Finansiering vir navorsing oor Afrikaner-onderwerpe
Die Erfenisstigting se Navorsingstrust, wat in 2005 op die been gebring is, speel ’n sleutelrol in die bevordering van gehaltenavorsing oor Afrikaner- en Afrikaansverwante onderwerpe.
Beplan jy navorsing oor ’n Afrikaner- of Afrikaansverwante onderwerp, maar jy’t nie die geld om aan dié droom gestalte te gee nie? Dan is daar goeie nuus!
Die Erfenisstigting (ES) se Navorsingstrust het finansiering vir 2026 beskikbaar gestel en nooi gesoute én aspirantnavorsers uit om aansoek te doen.
“Die ES is nie net ’n bewaarder van ons kollektiewe historiese geheue en identiteit nie, maar is verbind tot voortgesette kennisontwikkeling en -verdieping deur middel van deeglike en goed deurdagte navorsingsprojekte.
“Die Navorsingstrust se mandaat is om navorsing van hoë akademiese gehalte te ondersteun en ons sien uit na nuwe projekte wat ’n wesenlike bydrae tot die Afrikaanse akademiese diskoers in die breër Suid-Afrikaanse konteks lewer,” sê dr. Danie Lagner (besturende direkteur van die ES.
Volgens dr. Wouter van Wyk, voorsitter van die Navorsingstrust, het die gehalte van aansoeke die afgelope paar jaar merkbaar verbeter.
“Die Trust is opgewonde oor en trots op die waardevolle publikasies wat uit sy finansieringsinisiatiewe voortgespruit het. Voorkeur word gegee aan bekostigbare aansoeke wat binne ’n redelike tyd konkrete resultate lewer en die breër Afrikaanse gemeenskap van waarde kan wees.”

Wie en watter navorsingsprojekte kwalifiseer?
Navorsingsprojekte moet Afrikaner- en/of Afrikaansverwante onderwerpe dek. Projekte wat nie oorweeg word nie, sluit in fiksiewerk, familiegeskiedenis (mits genealogie as wetenskap ter sprake is), kongresstukke en kapitaalprojekte.
Die kernkriteria vir die toekenning van finansiering is dat projekte aan streng akademiese standaarde moet voldoen, en die finale navorsingsresultate moet in Afrikaans beskikbaar gestel word.
Lizette Jansen, bestuurder van die ES wat die administrasieproses behartig, moedig gevestigde en opkomende akademici aan om hul voorstelle vroegtydig in te dien.
“Die Trust se finansiering vir projekte wat ons kulturele erfenis bevorder, strek verder as rand en sent. Dit bied aan navorsers ’n waardevolle platform en gesaghebbende stem om ons kultuur, geskiedenis en identiteit vir toekomstige geslagte behoue te laat bly.”
Sluitingsdatum vir aansoeke
Aansoeke sluit op 31 Maart en kan gestuur word na lizette@kultuurtuiste.org.za
