Local newsNewsNews

Valie gestrand in Chinese tronk

Sy droom om 'n beter lewe vir hom en sy seun te bou is nou 'n nagmerrie.

VANDERBIJLPARK – Die 35-jarige oudVaaldriehoeker, Francois van Zyl de Kock, se toekomsdrome lê in skerwe nadat hy in China na ‘n verkeersongeluk gearresteer is.

Hy is steeds in aanhouding in ‘n detensiesentrum in Wuhan. Die oud-leerling aan die Laerskool Emfulenipark en Hoërskool Transvalia het onderwys in die Hainanprovinsie gegee waarna hy na Wuhan verhuis het vir ‘n beter werksgeleentheid.

Die Chinese vervolgingsgesag het ’n voorgestelde vonnis van tussen drie en vier jaar gevangenisstraf aangedui, saam met skadevergoeding aan die oorledene se familie ter waarde van 828 000 RMB (ongeveer R2m).

“As ’n middelklas SuidAfrikaanse familie het ons nie die finansiële vermoë om so ’n bedrag te betaal nie,” gee sy pa, Francois, te kenne. Sy pa is ‘n bekende prokureur in die Vaaldriehoek en sit tans met sy hande in sy hare.

Volgens Francois senior het Van Zyl soos wat hy verkies om genoem te word, hulle op 3 Augustus opgewonde gekontak met die nuus dat hy ‘n nuwe woonstel en elektroniese bromponie gekry het.

“Die daaropvolgende week het ons egter niks van hom gehoor nie, wat toenemende kommer veroorsaak het.

Sy broer, Hermanus, het sy werksagent gekontak en is ingelig dat Francois in verband met ’n verkeersongeluk gearresteer is.” Tydens hul eerste toegelate gesprek met Van Zyl ná sy arrestasie het hy verduidelik dat hy deur die stad gery het om die stad te verken, aangesien hy nuut in Wuhan was.

Omstreeks 22:00 die aand van die ongeluk was daar ’n skielike en ernstige wolkbreuk. “Volgens Van Zyl het hy stadig gery weens die swaar reën wat hy verstaan ook weerspieël word in die verkeerskamerabeeldmateriaal wat deur owerhede nagegaan is. Hy het gesê dat ’n vrou skielik van voor ’n bus uitgehardloop het, met iets wat haar gesig bedek.

As gevolg van die swaar reën, swak sig en die tyd van die nag, het hy geglo dat hy nie met haar gebots het nie en het hy aangehou ry,” vertel sy pa Francois.

Hy is op 4 Augustus 2025 by sy woning in verband met die voorval in hegtenis geneem. Op daardie stadium het hy nie gedink die saak was ernstig nie.

Daar was geen skade aan sy bromponie nie. Volgens polisieverslae is die vrou egter ongeveer ‘n maand later aan die beserings wat sy in die ongeluk opgedoen het oorlede.

Die polisie en sy regsverteenwoordigers het hom aangeraai om skuldig te pleit ingevolge die toepaslike Chinese wetgewing, aangesien dit moontlik ’n verminderde vonnis onder die versagtingsraamwerk kan meebring.

Van Zyl wat ‘n kranige rugby- en kondisioneringsafrigter is, was ook ‘n SA hekkies-kampioen in sy jonger dae. “Hy het gekies om in China te werk om sy gehoorgestremde seun te ondersteun en te spaar vir ’n meer stabiele toekoms, asook om internasionale ervaring op te doen om as opvoeder en afrigter te groei.”

Volgens sy pa kan die vonnis verminder word as die eisbedrag aan die oorledene se familie betaal word.

“Ons doen alles in ons vermoe om hom terug te kry in Suid-Afrika.”

*Diegene wat belangstel om Van Zyl by te staan kan: https://www.backabuddy.co.za/campaign/francois-van-zyl-de-kock besoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button