SASOLBURG – Veelvuldige Sklerose of MS soos dit algemeen bekend staan, kon Rozaan Steyn nog nooit onderkry nie. Selfs ‘n terugslag vat sy met ‘n glimlag aan.
Onlangs was sy weer by die neuroloog vir noodsaaklike toetse. Hy was verstom oor hoe goed sy doen en is baie tevrede met haar. Sy het die goeie nuus ontvang dat haar MS tans stabiel is.
“Hy het gesê ek is een van sy braafste pasiënte,” lag sy. Dit was nou nadat sy hom vertel het wat sy alles doen en wat sy beplan om te doen die jaar.
Rozaan doen twee maal per week pilates en dan durf sy gereeld park runs aan, of sy en van die ander MS warriors en ondersteuners gaan Saterdae en Dinsdae middae stap.
Hulle gaan juis weer Saterdag aan die 5 km pretstap by AGS Suid se markdag in Sasolburg deelneem. Volgende maand is dit die Sasolburg-marathon en Rozaan het ook daar haar visier op die 5 km.
Sy sien uit daarna om weer in Junie aan die Ysbeer deel te neem. Dis wanneer mense die yskoue water van Aldam aandurf ten bate van liefdadigheid.
Rozaan wil nie net die Ysbeer by Aldam doen nie, haar groot droom vir die jaar is om die Ysbeer in Sutherland te gaan trotseer. Die feit dat dit die koudste plek in Suid-Afrika is, sit haar geensins af nie.
Al wat haar op hierdie stadium terughou is dat sy borge moet kry om te help met die reis en -verblyfkostes.
Meer onlangs het sy in samewerking met haar pilates instruktrise, Joey Schoeman en haar ma, Ansie Steyn, ‘n video gemaak van ‘n spesiaal uitgewerkte pilates-dans vir MS lyers.
Die drie het die dans wat stoel oefeninge bevat gedoen terwyl Joey se man die video geneem het. “Daar is baie MS lyers in rolstoele en ek wou hul wys hulle kan steeds oefening kry al is dit net deur hul arms te beweeg.”
Rozaan het lank gesoek na die perfekte liedjie om saam met die video te gaan. Sy het uiteindelik op Die Vetkryt se Mag die Here besluit. Die lied is deur Awie Greyling geskryf.
Hy het toestemming gegee vir die gebruik van die lied. Rozaan het die lied op MS Hoop se Facebook groep gedeel en was verras met al die goeie terugvoer wat sy ontvang het.
